CrimeNews

Besigheid ‘verdrink’ in riool

Die hele besigheidsperseel is omring deur riool

Vir ses maande lank al moet ’n besigheid in Watermeyerstraat elke dag die stank van rioolwater wat op die perseel vloei trotseer.

“As ek die munisipaliteit kontak, weet die persoon aan die ander kant van die lyn presies wie ek is en vra ewe ‘is dit weer ek’, maar steeds word die probleem nie opgelos nie,” het mede-eienaar, me. Bernie Koch, gesê.

Die riool-probleem is al so groot dat geen persoon om die besigheid se gebou kan loop nie.

Die hele probleem het ontstaan in Oktober 2016 volgens die eienaar, mnr. Rohann Erasmus. “Ons het op die munisipaliteit se telefoonlyne en Facebook-blad geboer, ek kan nie eers dink aan hoeveel mense ek al mee gepraat het nie. Hulle het toe uiteindelik in Desember verlede jaar die probleem kom regmaak, maar die probleem het weer so vier weke terug begin,” het Koch moedeloos vertel.

Die hele besigheidsperseel is omring deur riool.

“Dis hartseer dat ons raadslede van die wyk se hande ook deesdae afgekap is en dat dit nou ’n hele proses is om die klagte te lê,” het Koch gesê.

Riool wat opgestoot het teen die besigheid se palisade.

WITBANK NUUS het die munisipale bestuurder, mnr. Theo van Vuuren oor dié onopgeloste probleem ingelig, maar het teen druktyd nie nog geen kommentaar ontvang nie.

“Mense sê ‘jy sal jou besigheid maar moet skuif na ’n ander perseel,’ maar dis nie so maklik nie,” het Koch ten slotte gesê.

LEES OOK:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/87024/inwoners-moeg-vir-maande-se-riool/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/77610/riool-vloei-en-water-word-vuiler/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button