Local newsNews

Ogies inwoners boos oor mynaktiwiteite

Inwoners van Ogies is op die oorlogspad oor mynaktiwiteite wat dreig om die klein dorpie te verswelg.

Inwoners van Ogies is op die oorlogspad oor mynaktiwiteite wat dreig om die klein dorpie te verswelg.

Hulle het die myngroep hof toe gesleep vir menseregteskendings en hulle eis dat Glencore hulle vergoed.
Me. Anne Marie Muller, van die forum vir Ogies se besorgde inwoners en besigheidsvrou, wat ’n gastehuis en kleuterskool op die dorp bedryf, het gesê Glencore myn nou letterlik op hul voorstoep. Sy het na ’n mynhoop verwys wat enkele meters van die Siza Bantu Shop is.

Die hoop bestaan uit bogrond wat weggeskraap word vir ’n oopgroefmyn.
Muller het gesê die mynbedrywighede veroorsaak stof wat soos ’n kombers oor die dorp hang.
Sy en ook baie ander inwoners lei aan chroniese sinusitus.

Dis maar een van die redes hoekom hulle geduld met Glencore besig is om uit te loop.
Muller beweer dat die mynbedrywighede ook die rede is dat hul huise kraak. En dis nie net haar huis nie, ook haar bure se huise dra ‘letsels’ daarvan.

“Glencore ignoreer die reëls en skiet tot lank ná sononder plofstof om steenkool te ontgin. Ek het gaste wat elke keer wip soos hulle skrik as daar geskiet word,” het Muller gesê.


Mynaktiwiteite neem letterlik op Ogies se voorstoep plaas.

Ook die geluid van die sleepgraaf, wat gebruik word in die oppervlakmynbouaktiwiteite om die steenkool te ontgin, se aanhoudende geraas is vir die inwoners een te veel.

“Die masjien se geluid gaan heelnag aan. Dit hou net nie op nie,” het Muller gesê.

Sy glo dat die mynreus se lisensievoorwaardes oortree en het reeds twee klagtes by die departement van minerale bronne ingedien.

“Die derde keer toe ek steeds geen reaksie kry nie, toe skree ek. Skielik word vergaderings gereël. Eers was daar net vier inwoners toe 75. Toe kom die vergaderings met die myn. Nou is ons al ’n hele forum.”

Mnr. Jan Balunga, voorsitter van die forum neem dit een stappie verder.

“Daar word nou langs grafte gemyn. As gevolg van die mynbedrywighede is plaaswerkers van die plase af verskuif na Phola en Rietspruit toe. Maar die grafte van hul naasbestaandes is nie verskuif nie. Die plaaswerkers het ook nie geld om die grafte self te skuif nie. Daar oorsteek die myn die grense van menseregte by verre,” het Balunga gesê

Hy het ook genoem dat plaaswerkers nie tevrede is met die huise waarin hulle nou gestop word nie omdat dit glo nie op standaard is nie.


Inwoners van Ogies is kwaad vir Glencore-myn.

Die forum se regsverteenwoordiger, mnr. Zehir Omar het die myngroep reeds hof toe gesleep oor die pad tussen die R555 en die R545 wat Glencore wou sluit om aan te gaan met hul mynbedrywighede.
Die saak is uitgestel tot later die maand en intussen mag die myn nie aan die pad raak nie.

“As daardie pad toegemaak word gaan die verkeer deur Ogies herlei word. Ons paaie word reeds deur trokke voos gery,” het Muller gesê.

Omar voer ook aan dat Glencore inwoners se reg op ’n gesonde omgewing skend. Twee dokters in die dorp sal in die hof getuig dat lugwegsiektes soos asma en brongitis die afgelope drie jaar skerp toegeneem het.

“Ons gee om oor gesondheid, veiligheid en menseregte van ons werkers asook die gemeenskap waarin ons werk. Ons doen ons werk in ’n omgewings verantwoordelike wyse,” het Glencore se woordvoerder me. Shamiela Letsoalo gesê.

“Ons bedrywighede verskaf werk en die myn maak ’n beduidende bydrae deur middel van korporatiewe maatskaplike belegging en plaaslike ekonomiese besteding,” het Letsoalo gesê.

Op die klagtes van huise wat bars oor die myn se skietwerk het Letsoalo gesê,

“Ons voldoen aan die Wet op Myngesondheid en -veiligheid se regulasies oor skietwerk. Daarbenewens tref ons alle redelike voorsorg om te verseker dat die geraasvlakke van die mynbedrywighede en die impak daarvan op die omliggende gebiede tot ’n minimum beperk word.”

Maar vir Muller is dit geen troos nie,

“Ek moes my een gastehuis in ’n kleuterskool omskep omdat die geraas my gaste verwilder. Ek kan nie waag om wit beddegoed op my beddens te sit nie. Dis nie lank nie of dit is bedek onder ’n laag stof. Ons eiendom se waarde val. As Glencore ons uitkoop sal ek eerste wees om te trek.”

LEES OOK:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/84351/family-wants-mine-to-honour-agreement/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/91653/glencore-donates-r50-000-witbank-spca/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button