
Wat ’n middaguitstappie moes wees het ontaard in ’n nagmerrie vir ’n 54-jarige vrou.
Me. Daleen Venter se verjaarsdag was erg ontwrig toe sy Vrydag 6 Mei saam met haar skoondogter, me. Ezné Venter, gou by Telkom in Highveld Mall ingeloer het omdat Ezné navraag wou doen oor ’n selfoon wat sy bestel het.
Volgens kapt. Eddie Hall, polisiewoordvoerder het Venter in ’n polisieverslag gesê sy en Ezné het ongeveer 45 minute lank gewag vir diens by die Telkom winkel, terwyl daar net een dame besig was om kliënte te help.
Venter het besluit om verdere inkopies te gaan doen en het weer later teruggekeer.
Die minute het verby gedraal en sy het die ontvangsdame gevra of sy die bestuurder kan sien. Die ontvangsdame het glo gesê die bestuurder het om 15:00 van ete af gekom.
In die bestuurder se kantoor het hy en ’n kollega na bewering op sy tafel gesit en eet. Sy wou net weet of die bestuurder hulle sou help met Ezné se navraag.
Venter het na bewering gesê sy gaan hom rapporteer nadat hy op haar vraag, of dit etenstyd is, nee geantwoord het.
Die bestuurder het blykbaar vir Venter genooi om ’n foto van hom te neem terwyl hy eet.
Kapt. Hall het gesê Venter het in haar polisieverklaring genoem dat sy die foto geneem en uitgestap het.
Die bestuurder het haar glo toe agternagesit en haar handsak probeer gryp waarna ’n stoeiery gevolg het. Venter het gesê dat sy verbete aan haar handsak vasgeklou het.
Op ’n stadium het die bestuurder glo vir haar geskree,
“all white people are the same”.
Haar skoondogter het krapmerke aan haar arm wat sy opgedoen het toe sy probeer het om die bestuurder van Venter af te kry.
Die bestuurder het Venter aangesê om die foto van haar selfoon af te vee.
Kapt. Hall het bevestig dat Venter se rug, nek en arm beseer is.
Venter wou nie kommentaar lewer op die voorval nie.
Mnr. Neil Damons, streeksbestuurder van Telkom Hoëveldstreek het gesê dat hulle baie jammer is oor die hele aangeleentheid.
“Ons kliënte is ons eerste prioriteit. Daarom het ons die videomateriaal van die hele voorval aangevra en sal daarna kyk en die nodige stappe neem,” het Damons gesê.
Die bestuur van Highveld Mall wou nie kommentaar lewer oor die voorval alvorens hulle ook na die videomateriaal gekyk het nie. Damons het gesê hy sal die videomateriaal aan hulle beskikbaar stel.
*Me. Daleen Venter is ’n plaaslike landdros.
ALSO READ:
https://www.citizen.co.za/witbank-news/12575/panga-aanval-moontlik-uit-wraak/
https://www.citizen.co.za/witbank-news/69319/man-dankbaar-om-te-leef-na-aanval/
