Local newsNews

Jammer, vanaf smokkelkroeg eienaar

“Ek vra dan om verskoning en sê jammer vir die inwoners van Tasbetparkwat deur hierdie misdrywe geraak word. Maar die enigste persoon wat dit kan uitklaar is ek,”

Vele klagtes het die aandag gevestig op ’n smokkelkroeg wat in Dulcimerstraat, Tasbetpark, bedryf word.

Die eienaar van die kroeg, me. Mantombi Taba het Maandag, 19 Junie om verskoning gevra vir enigeen wat geraak is deur haar kliënte se misdrywe.

“Ek is nie bewus van mense wat buite in die straat urineer nie. Volgens my, kom kliënte in, hulle geniet hul drankies en voor middernag is my deure gesluit. Die kliënte kyk wel sokker en luister musiek, maar dit is glad nie hard nie. Die mense in die buurt wil my besigheid beëindig. Ek weet nie hoekom nie,” het Taba gesê.

Sy het ’n geldige lisensie om drank te verkoop op die perseel. Die lisensie is deur die Mpumalanga Drankraad uitgereik en verstryk op 6 Julie. Sy het egter reeds weer aansoek gedoen om die lisensie te hernu, soos sy elke jaar maak. Volgens ’n bron by die drankraad, moet die aansoek eers goedgekeur word.

“Die aantuigings wat vroeër gemaak is, dat ek familie of vriende by die drankraad het, is onwaar. Ek het my lisensie verkry deur die regte stappe te volg,” het Taba gesê.

Sy het haar ongelukkigheid duidelik gemaak oor die manier hoe sy behandel word, en wanneer daar foto’s van haar geneem word wanneer sy binne haar huis en erf besig is.


Kliënte van die smokkelkroeg in Dulcimerstraat urineer, sonder skaamte (foto: verskaf).

“Inwoners neem foto’s van my waar ek skoonmaak, ek weet nie hoekom nie. Ek wou al polisie toe gegaan het oor hierdie saak, maar ek wil hulle nie te na kom nie,” het sy bygevoeg.

Taba het ook gesê dat haar erf ongeveer 12 voertuie gemaklik kan akkommodeer en dat dit nie nodig is vir voertuie om buite die erf te stop nie. Nadat daar aan haar gesê is dat foto’s bewyse hiervan is, het sy gesê dat sy nie daarvan bewus is nie. Sy het ook bygevoeg dat mense foute maak, maar dat die bure met haar moet praat wanneer dinge hulle ontstel, maar sy het nie beheer van wat buite die erf gebeur nie.

“Ek vra dan om verskoning en sê jammer vir die inwoners van Tasbetparkwat deur hierdie misdrywe geraak word. Maar die enigste persoon wat dit kan uitklaar is ek,” het sy ook bygevoeg.

Volgens die bron by die drankraad het hulle verlede week ’n besoek afgelê by die smokkelkroeg, saam met Witbank Polisie. Taba het gesê dat sy onbewus is hiervan.

Taba het ook bygevoeg dat die harde musiek net ’n storie is, aangesien hulle baie sagte musiek speel want sy het ook kinders wat sy nie wil ontwrig nie. Ook het sy gesê dat haar klanksisteem klein is en nie baie harde musiek kan speel nie.

“Ek wil niks doen wat ander inwoners en myself in die moeilikheid kan kry nie,” was haar verdere woorde.

Sy het bygevoeg dat sy streng by die reëls van die dranklisensie hou, en dat niemand buite ronddwaal nie.

“Almal kan ’n besigheid hê. Hierdie is my brood en botter en ek wil nie dat iemand dit in die wiele ry nie. Dit is ’n kompeterende wêreld en ek het ook die reg om my eie besigheid te hê,” het Taba gesê.

“Ek is nie iemand wat ’n wrok hou nie. Ek sal hulle vergewe as hulle my net in vrede kan los. Hulle moet by my kom kla anders gaan ek regstappe oorweeg.”

Die hernuwing van die lisensie word steeds oorweeg en die besluit sal eers gemaak word wanneer die papierwerk deurgewerk is volgens die drankraad.

Dit sal bepaal of die lisensie weer hernu sal word.

Bevestiging is ook ontvang deur Witbank Polisie dat hulle wel die kroeg besoek het.

LEES OOK:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/93150/smokkelkroeg-word-ondersoek/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/94179/smokkelkroeg-se-einde-moontlik-sig/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button