Meer huisbrande as veldbrande
Met die seisoen van veldbrande wat sy verskyning oral in die land maak, brand meer huise as velde in eMalalheni.

Met die seisoen van veldbrande wat sy verskyning oral in die land maak, brand meer huise as velde in eMalalheni.
Op 14 Junie het daar ’n huis in Barendstraat in vuur en vlam uitgebars weens ’n gasbottel wat blykbaar ontplof het. Net dae na dié brand het nog ’n voorval plaasgevind in Nitastraat toe mnr. Charl du Plessis se lapadak vlam gevat het.

Die huis in Nitastraat wat se lapadak vlam gevat het op 19 Junie.
Die oorsprong van die vuur is nog nie bekend nie, maar word ondersoek.
“Ek persoonlik dink dit was ’n sigaretstompie wat die oorsaak was. Iemand langsaan my het seker ’n rokie gemaak en die stompie oor die muur geskiet,” het du Plessis gesê.
Volgens hom was hy nie eers bewus van die vuur wat besig was om sy lapadak te verwoes nie.
“Eers toe my buurvrou oor die muur spring en histeries by my deur kom klop het, het ek besef wat aan die gebeur was. Sy het my vertel dat sy buite in haar erf besig was toe sy ’n tak deur die lig sien trek. Dit was toe minute later wat die rook uit my lapadak begin trek het,” het hy vertel.
Die vuur het volgens du Plessis nog nie eers behoorlik begin brand nie, toe die buurtwag hulp ontbied het.

Die huis in Nitastraat wat se lapadak vlam gevat het op 19 Junie.
“Ek is al jare ’n lid van die buurtwag en in al daardie jare het ek nooit gedink iemand sal my moet help nie, maar hulle was blitsvinnig daar en het die vuur geblus voor die brandweer opgedaag het,” het hy met trots vertel oor die goeie diens van die buurtwag.
“Dit was ’n bitter groot skrik vir my, maar ek kan net bly wees niemand het seer gekry nie. Ek kan ook net al my dank aan Michelle Cockott, Stanley White, James Kraft, Sarel Maree, Nardus Booyse, Etienne Steenberg, Isabel van Zyl en Lucille Lamb gee vir hulle spoedige optrede. Dis sulke mense wat my laat besef as ons as gemeenskap saamwerk sal daar verandering kom,” het hy dankbaar ten einde bygevoeg.
LEES OOK:
https://www.citizen.co.za/witbank-news/84475/alles-is-vernietig/
https://www.citizen.co.za/witbank-news/79649/vrou-kritiek-na-brand-haar-oorval/
