Local newsNews

Dryf-byeenkoms dryf inwoners teen die mure uit

Boere in die Saaihoek omgewing is boos oor ’n onwettige dryf-byeenkoms (drifting) op die pad wat na hul plase lei

Boere in die Saaihoek omgewing is boos oor ’n onwettige dryf-byeenkoms (drifting) op die pad wat na hul plase lei.
Van die inwoners in die omgewing kon Saterdag 24 Junie nie by hul plase, huise en besighede kom nie omdat die pad versper was.

’n Groep mense het ’n byeenkoms op een van die plase bygewoon en daar het meer mense opgedaag as wat die organiseerders verwag het.

Dit het omtrent gelyk soos ’n toneel uit die fliek ‘Fast and Furious’ soos bestuurders hul ‘vernuf’ agter die stuurwiel gewys het om as dryf-kampioen van die dag gekroon te word.

Mnr. Jacob Mabena op wie se plaas die ‘dryf-kompetisie’ gehou is, het gesê hy het net sy plaas beskikbaar gestel vir die byeenkoms en het gesê die organiseerders was nie al dié dryf-entoesiaste te wagte nie.

“Daar het soveel mense opgedaag dat parkering ’n probleem was en die mense padlangs, op die Saaihoekpad, al langs die plaas parkeer het,” het Mabena gesê.


’n Byeenkoms op die Saaihoekpad het soveel mense getrek dat parkering ’n probleem was en karre drie langs mekaar parkeer het. Dit het inwoners van die omgewing verhoed om deur te ry.

Dit was dié parkeer-probleem wat die inwoners rooi laat sien het.

“Ons kon nie deurry na ons plase toe nie. Van ons werkers was geïntimideer deur van die mense wat alkohol langs die pad gestaan en drink het,” het nog ’n inwoner van die omgewing gesê.

Die inwoners het geskat dat die karre drie langs mekaar oor ongeveer 800m ver parkeer het.
Een boer het dit as absolute chaos beskryf.

“Hierdie was ons eerste poging en ons het beslis baie daaruit geleer. Ons beplan nog sulke byeenkomste en sal die logistiek daarvan dan reg hê,” het Mabena gesê.

Van die munisipaliteit se kant af het mnr. Kingdom Mabuza, munisipale woordvoerder gesê niemand het aansoek gedoen vir enige vorm van motor resies of sport op die munisipale paaie nie.

Hy het gesê die munisipaliteit is gekant teen enige sulke onwettige aktiwiteite wat die lewens van ander in gevaar kan plaas.

“Ons waarsku enige iemand wat aan sulke onwettige aktiwiteite deelneem om te stop. Daar is aangewese plekke en paaie op ander plekke in die provinsie en ook net buite die provinsie wat gebruik kan word,” het Mabuza gesê.

Mabuza het ook genoem dat verskeie wenke aan die munisipaliteit rakende onwettige resies in Mandelastraat deurgegee is en hulle saam met die polisie aandag aan die onwettige resies gaan gee.

Enige wenke rakende onwettige resies kan vir die munisipaliteit deurgegee word: 013 6906 222/333/444.

LEES OOK:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/95304/jammer-vanaf-smokkelkroeg-eienaar/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/87909/doef-doef-dryf-inwoners-na-raserny/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button