CrimeNews

Sementblok tref kar op snelweg

“Dit was vroegaand, dit het net begin donker word en net toe ons onderdeur ’n brug gery het"

’n Nuwe tendens is besig om vlam te vat en motoriste word gewaarsku om op die uitkyk te wees wanneer hul op die snelweg ry.

Op Sondag, 16 Julie is ’n stuk sementblok deur ’n motoris se venster gegooi. Die voorval het op die N4-snelweg plaasgevind, net verby Bronkhorstspruit.

Me. Maud van Venrooy het op Dinsdag, 18 Julie vertel dat sy en haar man op pad terug was vanaf eMalahleni na hul huis, tussen Bronkhorstspruit en Donkerhoek.

“Dit was vroegaand, dit het net begin donker word en net toe ons onderdeur ’n brug gery het, verby die Balmoral/Ogies-afrit, het ons ’n massiewe slag gehoor en die voertuig het bietjie geruk,” het sy vertel.

Dit is toe dat sy en haar man opmerk dat daar ’n sementblok met ’n tipe draad in, deur hul windskerm gegooi is.

“My man wou dadelik stop, maar ek het net geskree dat hy moet aanhou ry. So hele paar kilometer verder het ons toe afgetrek en ek het my boeglam geskrik toe ek al die bloed sien. My man het stukke glas uitgespoeg en as ons ’n paar sentimeter nader aan die brug was, bietjie vinniger gery het, het die sementblok my man teen die kop getref,” het Van Venrooy gesê.


’n Groot stuk sement is op die Van Venrooy’s se kar gegooi terwyl hulle op die N4-snelweg gery het op Sondag 16 Julie. (Foto: verskaf).

Sy het verder vertel dat haar man gelukkig nie erg aan die Jeep se stuurwiel gepluk het nie, anders het die voertuig heelwaarskynlik gerol.

“Hulle sou ons van alles beroof het, as ons afgetrek het en of in ’n ernstige ongeluk was. Ek glo dat daar mense op die brug staan en ander onder die brug is, om jou te beroof na jy stop,” het sy ook gesê.

“Ons het in die noodbaan gery, met ons noodligte aan, gebreekte glas oral en die stuk sement steeds waar dit geland het. Ek het glas uit my ore, van my kop en uit my klere gehaal.”

Sy het bygevoeg dat hulle eers die volgende dag besef het dat daar eintlik twee klippe gegooi is, die ander een vermoedelik vir haar bedoel. Hulle het hierdie klip op die dak gesien, maar dit was nie deur die windskerm nie.
Van Venrooy het hierdie as ’n baie traumatiese gebeurtenis beskryf en dat motoriste baie versigtig moet wees, veral wanneer hulle onderdeur ’n brug ry op die snelweg.

Daar is ’n saak by die polisie geopen, wat tans ondersoek word.

’n Soortgelyke voorval het in Maart vanjaar ook plaasgevind, maar dit het ’n botsing tot gevolg gehad.

WITBANK NUUS het op Vrydag, 31 Maart berig dat die klip wat deur ’n wit Polo se windskerm gegooi is, hom beheer oor die voertuig laat verloor het en hy teen mnr. Gert Klaas se voertuig gebots het. Albei voertuie is daarna by ’n wal langs die snelweg af, naby die stadion.

Geen ernstige beserings is hier opgedoen nie.

LEES OOK:

https://www.citizen.co.za/witbank-news/77418/snelweg-kapers-sak-weer-toe/

https://www.citizen.co.za/witbank-news/57926/ongeluk-laat-beserings-na/

Check Also
Close
Back to top button