
’n Selfoonwinkel in Klipfontein is verlede week beroof en nog drie ander winkels in dieselfde week.
Mnr. Bongani Shibambu het die voorval beskryf wat op Dinsdag, 11 Julie in die winkel plaasgevind het.
“Die man het die winkel ingekom en wou ’n selfoonkontrak uitneem. Hy het nie ’n bankstaat gehad nie, en ek het hom ingelig dat ons dit nie sonder die korrekte dokumentasie kan doen nie. Hy het uitgeloop en nog ’n man het die winkel ingekom, besig op ’n selfoon. Die twee het net skielik begin gewere rondswaai,” het hy gesê.
Shibambu het verder vertel dat hy en ’n ander konsultant agter toegemaak is en die rowers wou hulle in die badkamer toemaak.
“Hulle het die selfone gesien wat vertoon word en gevra of dit regte fone is. Ons het gesê nee, en hulle het ons begin deursoek vir ons selfone. Hulle het ons werklik oral bevoel en hardhandig met ons begin gewerk. Ook het hulle vir ons gesê dat hulle eintlik op soek is na kontant, wat ons nie gehad het nie,” was Shibambu se verdere woorde.
Hy het bygevoeg dat niemand ernstig beseer is nie, maar dat hulle die dag se geld in die kasregister gesteel het, wat glo nie veel was nie.
“Ons het oorspronklik gedink dat daar slegs twee mans was, maar het later op die beeldmateriaal gesien dat daar in werklikheid vier mans was,” het hy ten slotte gesê.
Nog besighede is beroof, een op die hoeke van Plumer- en Beattystraat.
Die slagoffer het aan die polisie vertel dat hy ongeveer 17:50 by ’n stil werksplek aangekom het, en alles was in orde. Hy het omstreeks 22:30 daardie aand ’n lawaai by die hek gehoor en toe hy gaan kyk, het ’n verdagte man glo ’n vuurwapen in sy rigting gewys. Die rowers het hom toe na bewering in ’n vertrek toegemaak en ’n televisie, selfone en ander items gesteel.
Op die R555 het ’n werknemer sy normale roetine gevolg en patrolleer. Hy het ongeveer kort voor 23:00 vyf verdagte mans op die perseel gesien, van hulle was glo gewapen en hy het na die R555 gehardloop. Hy het aan polisie vertel dat dit in ’n poging was om hulp te kry, maar die mans het hom agternagesit.
Die verdagtes het blitsvinnig opgevang met hom en hom aan ’n paal vasgemaak, waarna hulle sy selfoon gevat het. Die maatskappy se trok is ook in die voorval gesteel, maar is later teruggekry met ’n gebarste band, in Old Coronation.
Op ’n Landau-plot is bande, selfone en verskeie ander goedere gesteel toe die werknemer die honde vreeslik hoor blaf het. Hy het gaan kyk toe vier mans na hom kom en sy selfoon soek. Hy het aan polisie vertel dat twee verdagtes by hom gebly het, terwyl die ander hul trok se nege wiele afgehaal het.
Geen arrestasies is nog in hierdie verband gemaak nie, en sake van besigheidsrowe word steeds ondersoek.
LEES OOK:
https://www.citizen.co.za/witbank-news/90928/nege-vulstasie-winkels-n-maand-beroof/
https://www.citizen.co.za/witbank-news/92379/beroof-van-kontant-en-selfoon/
