
Lede van die South African Community Crime Watch (SACCW) het weereens gewys waarvan hul gemaak is deur ’n man aan te keer wat glo onder die invloed van alkohol was.
Mnr. Johan Snyman, een van die reaksielede het Dinsdag 23 Januarie vertel dat die oproep ingekom het op Sondag 21 Januarie. Die man het hulp gevra, nadat ’n man in ’n Volkswagen Polo hom gestamp het.
“Dit was in OR Tambostraat by die ou Volkswagen motorhandelaar. Ek het in my kar gespring en soontoe gejaag, aangesien ek in die area bly. Op die toneel was die verdagte baie arrogant,” het Snyman vertel.
“Ons het daar vermoed dat hy onder die invloed van alkohol was en wou hom arresteer, maar hy het weggejaag en teen my voertuig se sleepstang vasgery.”
Hy het bygevoeg dat die man meer as een keer in sy voertuig vasgery het.
Snyman het ook vertel dat die bestuurder ander voertuie van die pad af gedruk het.

Die voertuig en die verdagte wat vasgekeer is deur lede van die SACCW op Sondag 21 Januarie (foto: Johan Snyman).
“Ons het hom ’n tweede keer vasgekeer en by die ou OK se parkering, so paar meter voor die langafstand taxistaanplek hom ingeblok. Die polisie was binne paar minute daar gewees om die man te arresteer, en goeie spanwerk het hiertoe gelei,” het Snyman vertel.
Mnr. Tommie Potgieter, reaksielid van SACCW was eerste op die toneel nadat die persoon in die Hilux-bakkie ingeroep het op die oop kanaal, waar hy hulp aangevra het. “Ons het die een insleepdienste-voertuig geskuif, na ons gesien het wat die bestuurder van die Polo se plan is. Dit was by die eerste ongeluk in OR Tambostraat,” het Potgieter vertel.
’n Derde reaksielid van die SACCW het bygevoeg dat die verdagte gedreig het om sy ‘vriende’ te gaan roep by die langafstand taxistaanplek, kort voor die polisie by die toneel aangekom het.
“Ons wil die polisie bedank vir hul samewerking en ook hul vinnige optrede tydens die voorval. Ons is beskikbaar, enige tyd van die dag of nag wanneer lede van die publiek hulp nodig het en nie hulself kan help nie,” het die reaksielid ten slotte gesê.
Inligting van die polisie bevestig bogenoemde gebeure en dat die verdagte glo gesukkel het om regop te staan en na alkohol geruik het. Die bestuurder van die Polo is gearresteer vir dronkbestuur en roekeloos of nalatige bestuur.
LEES OOK
https://www.citizen.co.za/witbank-news/103376/saccw-caught-another-suspect/
https://www.citizen.co.za/witbank-news/105298/police-join-forces-saccw/
