
Soos die hartseer atmosfeer gaan lê het oor die Reynorif area oor die grusame moord van Letitia Jacobs in Springboklaan, het inbrekers steeds hul kans gevat met misdaad.
WITBANK NUUS het in 20 Julie se uitgawe berig gelewer oor die wrede dood van ’n inwoner wat vermoor is in haar eie huis op 17 Julie.
’n Dag na die gebeure op 18 Julie, het die South African Community Crime Watch (SACCW) gereageer op twee voorvalle wat in die einste gebied ingeroep is.
In die eerste voorval het ’n inwoner wat om en by drie weke gelede ook die teiken van ’n huisinbraak was, ingeroep vanaf Nuwelandstraat. Ongelukkig was die inbreker vinnig genoeg en het net stofspore gelaat.
“Daar is beeldmateriaal vir ons gegee oor die verdagte wat weggekom het,” het Maureen Scheepers van SACCW gesê.
LEES OOK
Volgens Scheepers was reaksielede nog besig in Nuwelandstraat toe nog ’n klagte op hul zello kanaal deurgekom het van twee verdagtes wat mure spring in Elandstraat.
SACCW lede het dadelik gereageer en gejaag na die gegewe adres waarop hulle twee verdagtes op heterdaad betrap het. Die polisie is na beide voorvalle ontbied, maar kon geen arrestasies maak nie omdat daar nie ’n aanklaer was om ’n saak te open in Elandstraat nie.

Die twee verdagtes wat op heterdaad betrap is in Elandstraat op 18 Julie deur die (SACCW) South African Community Crime Watch.
“Dit is so belangrik dat die inwoners sake moet open as sulke voorvalle plaasvind sodat die verdagtes op die SAPD sisteem kan kom,” het sersant David Ratau gesê.
Dit het verder ook aan die lig gekom dat meerderheid inbrake helder oordag in die Reynorif area deesdae plaasvind.
“Ons vra die inwoners van die Reynorif area om op hul hoede te wees en enige iets buitengewoon sal rapporteer aan ons of die polisie. Inwoners kan gerus aansluit by die buurwag want op die ou einde is ons inwoners mekaar se oë en ore,” het Scheepers ten slotte gesê.
Om aan te sluit by die Reynorif buurtwag, kan Lucas Smith geskakel word by 071 014 4792.
