
Skokgolwe het deur die gemeenskap gevloei na die sinnelose moord op ’n ma en dogter twee jaar gelede.
Meer intrige het gevolg toe ’n vrou vir die moord, wat op 19 Augustus 2016 gebeur, in hegtenis geneem is.
Op Dinsdag, 4 September, het landdros Hans Combrink, Yvette Burger in Witbank Streekhof tot 15 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis na die moord op haar ma, Ester en suster, Caren.
Een van die getuies, me. Aldine Byrne het tydens haar getuienis gesê sy het omstreeks 23:20 op die noodlottige aand ’n oproep van Caren se selfoon af ontvang. Sy het die oproep gemis omdat sy geslaap het. Sy het wakker geword, badkamer toe gegaan en toe vir Caren ’n boodskap teruggestuur en gevra of iets verkeerd is.
Die selfoon het weer gelui en ’n vrou het haar voorgestel as Caren se sussie, Yvette, en gesê sy het haar ma en sussie geskiet en haar sussie sal nie Maandag by die werk wees nie.
LEES OOK
EKSKLUSIEF: ‘My ma het gevra ek moet hulle skiet as hulle slaap’
Byrne het dadelik die buurtwag op die Zello-kanaal laat weet.
Mnr. Stanley White, voorsitter van die buurtwag was eerste op die toneel saam met kol. Gerhard Westrate.
White het ook getuig hoe hulle gesukkel het om die pa, mnr. Lloyd Burger wakker te kry.
“Toe ons uiteindelik die pa wakker gekry het, het ek duidelik gehoor hoe hy sy kamerdeur oopsluit.”
Mnr. Burger het op ’n vorige geleentheid gesê hy het die aand vyf stywe doppe en slaappille gedrink en die kamerdeur gesluit voor hy gaan slaap het. Hy het nie die skote gehoor nie.
White en kol. Westrate het Burger in die een slaapkamer bo op haar ma se lyk gekry. White het getuig dat Burger beskonke was. Hulle het Caren se lyk in haar kamer gekry. Albei was in die kop geskiet.
Burger het in haar getuienis gesê daar was spanning en ’n rusie oor geldprobleme op die aand waarop sy die moord gepleeg het. Sy was werkloos en haar pa het nie geweet nie. Sy het haar pa vir drie jaar om die bos gelei deur elke dag te maak of sy werk toe gaan.
Sy het gesê sy kan nie onthou wat die aand gebeur het nie omdat sy Vodka, agt kodeïne pille en slaappille gedrink het.
Mnr. Makitimela Nkadimeng het Burger verteenwoordig en mnr. Francois Brandt het vir die staat opgetree.
