Kapt. Eddie Hall, media woordvoerder het ’n dringende beroep op huiseienaars gedoen om sake te open, en om huurders in leë huise te sit.
Dit volg na ’n man gearresteer en vermoedelik weer vrygelaat is nadat hy ’n leë huis in Geministraat geplunder het op Vrydag, 7 September.
Me. Maureen Scheepers, operasie koördineerder van die SACCW (South African Community Crime Watch) het gesê dat ’n ander inwoner van die gebied die man opgemerk het.
“Hy het een van daardie groot kaggels uitgebreek, so natuurlik sou dit aandag trek. Sy het vir Lucas Smith ontbied en die man agterna gesit nadat hy die huis verlaat het. Smith het die polisie na die toneel ontbied en die man is gearresteer.”
Sy het bygevoeg dat die man dieselfde dag, net ’n paar minute later weer gewaar is deur ’n ander reaksielid.
“Aangesien daar geen klaer was om ’n saak te open nie, is die man weer op straat.”
Kapt. Hall het gesê dat enige misdaad by jou eiendom aan die polisie gerapporteer moet word.
“Die polisie se operasies en mannekrag word toegeken aan die aantal misdaad wat gerapporteer word. Daar word beamptes aan gerapporteerde misdade toegeken. Ons moet patrone en tendense identifiseer en dit kan slegs gedoen word op sake wat by die stasie aangemeld word.”
Kapt. Hall het gesê dat slegs eienaars van leë huise kan sake open en hy moedig hulle aan om dit te doen, sodat die polisie in die probleemareas kan polisieer en hulle weet dan presies waarvoor om op die uitkyk te wees.
“Ons wil steeds nie hê huise moet leeg staan nie, aangesien dit talle kriminele elemente lok vir huise om geplunder te word. Vermeende dwelmgebruikers en haweloses slaap in leë huise en maak meer skade vir die huiseienaar. Ons versoek van die publiek om huurders in hul huise te hê ten alle tye,” het Kapt. Hall ten slotte gesê.
Vir enige navrae of noodgevalle in die Reynorif area, kontak vir Lucas Smith by 071 014 4792 of gebruik die direkte zello kanaal: https://zello.com/SACCW.
