
’n Man het die onvergeetlike gebeure herroep, waar hy en sy seun slagoffers was van misdaad.
’n Saak van gewapende roof is oopgemaak deur mnr. *Johan Labuschagne nadat hy en sy seun ’n motorfiets vir mense moes gaan wys in Vanderbijlpark, wat hul op ’n bekende landswye advertensieblad geadverteer het.
“Ons het Saterdag, 29 September ’n oproep van ’n ou ontvang, glo uit Namibië. Die ou het die advertensie gesien en gesê hy soek dit. Sy swaer wou glo die motorfiets sien, wat dan vir ons die geld sal oorbetaal. Hulle het gesê ons hoef nie die fiets saam te bring nie, hulle sal dit op 29 Oktober kom haal. Hulle wil net die geld oorbetaal en ’n ‘sales agreement’ teken,” het Johan vertel.
Hy het bygevoeg dat die mans net die geld wou oorbetaal sodat Johan die fiets vir hom kan hou.
“Ons het deurgery Vanderbijlpark toe en die mans het gevra ons moet na ’n huis toe gaan. Daar gekom, toe storm daar hordes mans in. Ek skat daar was seker so 14 ouens op ’n stadium in die huis. Van hulle het gesê hulle is die polisie en twee het wel uniform aangehad. Daar het hulle ons begin dreig en sê hulle soek R100 000,” het Johan herroep.
Hy het gesê dat die verdagtes sy seun iewers heen gevat het en vir Johan ‘oupa’ genoem.
“Hulle het gesê dat as ek ‘moves’ trek, hulle my seun sou uithaal. Ek moes bank toe gaan en gaan geld trek.”
LEES OOK
Rowers steel tekkies van man se voete af
Verdagte duik deur venster om vrou te roof in Del Judor
Johan het bygevoeg dat daar twee verdagtes saam hom in die kar was en nog twee het met ’n ander kar gery, almal bank toe. Almal het ook buite gewag, tot die transaksie afgehandel was.
“My vrou het ’n SMS gekry dat daar ’n groot bedrag uit die rekening getrek is en dadelik die bedroglyn geskakel. Sy het vermoed iets is verkeerd. Hulle het gesê omdat my pinkode gebruik is, die transaksie wettig is.”
Johan het ook bygelas dat hulle na ’n ander huis toe is, waar sy seun uitgekom het.
“Hulle het gesê ons moet direk huis toe ry. Hulle het ons agtervolg tot so 80 kilometer voor eMalahleni op die N12-snelweg. My vrou het intussen vir Maureen gebel wat gesê het ons moet polisiestasie toe gaan.”
Maureen Scheepers, operasie-koördineerder van die SACCW (South African Community Crime Watch) Witbank, het hulle by die polisiestasie ontmoet en bystand verleen.
Die saak word tans steeds ondersoek.
Johan het ten slotte gesê:
“In só situasie dink jy nie aan ‘wat as’ nie. Jy dink net aan jou en jou kind se lewens en om lewendig daaruit te kom. Goddank, ons geld was vroeër inbetaal die maand. As ons niks by ons gehad het nie, glo ek ons sou met ons lewens geboet het.”
