
Die tendens van ou voertuie wat gesteel word is steeds aan die gang en die polisie waarsku bestuurders om waaksaam te wees.
In die afgelope week is talle ouer-model voertuie gesteel, by Saveways Crescent en ook by Highland Mews.
Die tendens is kommerwekkend vir die polisie en waarsku motoriste. Kapt Eddie Hall het gesê:
“Die karre word heel waarskynlik vir parte gesteel en motoriste moet kyk wat hulle kan doen om dit te verhoed. Dit blyk dat Nissan 1400’s, Mazda Sting, Mazda 323, Ford Laser en die Citi Golf onder die top karre is wat gesteel word. Die belangrikste is om ’n opsporingstelsel in te sit, so ook alarms en ratsluiters.”
Kapt. Hall het bygevoeg dat motoriste wat by winkelsentrums stop, van die karwagte gebruik moet maak en dan ook mondelingse ooreenkomste aangaan om die moontlike veiligheid van jou voertuig te verseker.
“Die polisie stel voor dat motoriste enige moontlike stappe neem om te voorkom dat jou voertuig gesteel word, of met ’n opsporingstelsel die polisie te help om jou voertuig terug te kry,” het Hall bygevoeg.
LEES OOK
Voertuie in helder daglig gesteel
Dit volg na sake aangemeld is van ’n wit Toyota Conquest, 1988 model wat by die Saveways-sentum gesteel is. Die slagoffer het met groot hartseer vertel hoe hulle slegs 10 minute in ’n klerewinkel was.
“Toe ons uitkom was die kar net weg.”
Sy het gesê dat daar nie ’n opsporingstelsel in was nie, as gevolg van omstandighede buite haar bereik en dat sy die voertuig nog nie eers ses maande gehad het nie. Die registrasienommer is BGM 443 MP.
In ’n ander geval is nog ’n Nissan 1400 ook by dieselfde inkopiesentrum gesteel. In hierdie geval het die verdagtes glo sleutels vir die kar gehad. Die slagoffer was nie beskikbaar vir verdere kommentaar nie.
Die voertuig se registrasienommer is CVM 314 MP.
Indien die voertuie opgemerk word, skakel die polisie direk by 013 655 5052 of kontak vir Maureen Scheepers by 082 565 6770 of David Wessels by 072 777 3012.
Die direkte SACCW zello-kanaal kan ook gebruik word vir noodgevalle: https://zello.com/SACCW
