
In ’n poging om aandag te lok om hulp te kry, het ’n verkragtingslagoffer na die N12-snelweg gekruip met die hoop dat iemand tot haar redding sal kom.
Volgens die vrou is sy meer as een keer verkrag deur ’n man wat haar gegryp het terwyl sy Maandag, 12 November omstreeks 16:00 in OR Tambostraat, onder die N12-snelweg se brug gestap het.
Hy het haar glo in die rigting van die Klipfontein-damwal gesleep, waar die verkragting plaasgevind het.
Die verdagte het die slagoffer in die veld gelos vir dood en sy het gekruip tot waar sy gehoop het iemand tot haar redding sou kom.
’n Verbygaande motoris het die vrou op die kant van die N12-snelweg sien lê en dadelik hulp ontbied.
Mnr. Flip Opperman van die South African Community Crime Watch (SACCW) is na die toneel waar hy die vrou in die linkerbaan aangetref het.
“Sy was nat gewees en ek wou haar help om uit die pad te skuif maar sy het te seer gehad.” het Opperman vertel.
LEES OOK
Oujaar kuier lei na verkragting
Hy het sy voertuig so gestop sodat die vrou beskerm was teen die verkeer.
Volgens die slagoffer het die man haar op ’n stadium glo in die water gedruk. Sy het vertel dat sy ’n stok in die hande kon kry waarmee sy haar aanvaller in die oog wou steek, maar die man was te sterk vir haar.
Sy is na Witbank Hospitaal geneem vir behandeling deur paramedici van ER24.

Die toneel waar die slagoffer gevind is op die N12-snelweg.
Witbank Polisie het die voorval bevestig en ook gesê dat die verdagte glo vir die vrou dwelms geoffer het. Die verdagte het glo ook ’n mes in sy besit gehad waarmee die slagoffer gedreig is.
’n Saak van verkragting word deur die polisie ondersoek.
’n Waarskuwing is uitgereik dat vroue nie alleen moet loop nie, maar eerder in groepe van twee of meer, veral in die Klipfontein- Reynorif- Duvhapark –areas.
“Ek wil net vir Andrew Freeme en Hennie James bedank vir hul hulp en flink optrede,” het Opperman gesê.
