
’n Vrou van Ga-Nala is vreesbevange nadat misdadigers haar handsak uit haar motor gesteel het, reg voor haar huis.
Maandagoggend, 12 November het ’n dief me. Mary Crossman se handsak en selfoon uit haar motor gesteel, terwyl die motor in haar erf gestaan het.

Binne in een van die leë huise.
“Ek het my seun by die skool afgelaai en oppad werk toe besef ek het iets by die huis vergeet, ek het vinnig by die huis gestop en ingehol. Ek was nie eers twee minute weg nie, toe ek weer by my motor kom, sien ek dat die deur oopstaan en dat my handsak weg is,” het Crossman gesê.
Na bewering het die verdagtes haar handsak met ’n groot som kontant asook haar selfoon gesteel.
“Die skelms het in een van die leë Eskom huise naby my huis ingehardloop.”
LEES OOK
Open sake en sit huurders in jou leë huis
Diewe help hulself by leë huise
Crossman meen dat die leë huise die trekpleister vir misdadigers in Ga-Nala is.
“Ek het al soveel keer vir die polisie vertel van boemelaars en dwelmhandelaars wat in daardie huise woon. Ek het al met my eie oë gesien hoe dwelms daar gekoop en verkoop word.”
Crossman se man is agterna en binne die leë huis in, dit is toe wat hy netjies opgevoude beddegoed en komberse sien.
“My man het onder die komberse gekyk en my handsak daar gekry, maar my beursie met die kontant en my selfoon was nie meer daar nie.”
Crossman vertel dat die inwoners van Ga-Nala al menige kere by Eskom gepleit het om die leë huise uit te verhuur aan privaat huurders as hul nie beplan om dit vir hulle werknemers te gee nie.
“Ons het selfs al by die polisie gaan hoor of hulle nie iemand op patrollie naby die leë huise kan plaas nie.”

Buite die leë huis.
Crossman, sowel as ander inwoners van Ga-Nala voel dat as Eskom die huise uitverhuur of selfs wagte daar plaas, die misdaad in hul dorp aansienlik sal verminder.
WITBANK NUUS het Eskom genader vir kommentaar rakende die leë huise, en het spoedig terugvoer ontvang.
“Eskom Ga-Nala het ongeveer 50 huise wat tans vakant is. Hierdie huise is sover moontlik deur Eskom gestroop om diefstal van los eiendomsitems en toerusting te voorkom. Ongeveer 18 van hierdie huise is reeds op oop tender verkoop, maar die registrasieproses is lank en die meeste huise mag net geregistreer word in Januarie of Februarie 2019. Ook is ‘n paar huise (12) geïdentifiseer om na ‘n ander afdeling binne Eskom, Primêre Energie gehuur te word, wat sal verseker dat hierdie huise binnekort besig sal wees. Nog 8 huise wat vakant was, is reeds besig. Die 12 oorblywende vakante huise sal teen ongeveer Januarie of Februarie 2019 op ‘n nuwe oop tender (eerstens aan Eskom-werknemers) geplaas word. Eskom besoek ook gereeld die vakante huise om te verseker dat dit nie verder vandaliseer of onwettig beset word nie. Verder het Eskom vergader en geraadpleeg met die Ga-Nala SAPD en die plaaslike buurtwaggroepe om Eskom by te staan met inligting in geval van enige verdagte of kriminele aktiwiteite rondom hierdie vakante huise. Eskom is werklik hartseer om te leer dat ‘n lid van die publiek aan ‘n misdaadvoorval in Ga-Nala blootgestel is en wil graag beklemtoon dat ons alles in ons vermoë sal doen om die vakante huise so gou as wat prosesse toelaat, te verkoop.”
