
Drie gevalle van honde in Beitstraat, Blancheville wat vergiftig is, doen die rondte.
Hartseer inwoners het angstig na hulp gesoek op die sosiale platform Facebook om tot die redding te kom van hul geliefde viervoet kinders wat gif ingekry het.
Boosdoeners het nie net toegesak by een huis nie, maar drie huise se erwe “vergiftig”.
Die SACCW (South African Crime Watch) het dadelik hulp uitgestuur om tot van die diere se redding te kom.
Ongelukkig het vier onskuldige hondekinders hul lewens verloor.
“Ek het een van die hondjies dadelik begin medisyne ingee en gehaas na dokter Stone toe. Die eienaars het haar toe gisteraand gaan haal by die veearts maar sê die hondjie is nog baie swak,” het Yolande Bezuidenhout van SACCW gesê.
Die vergiftiging van honde is al vir lank ’n groot probleem in eMalahleni en meen Bezuidenhout dat “meeste van die gevalle wat gerapporteer word het die eienaars motorfietse wat die booswigte teiken.”
Die inwoners word dus aangeraai om hul diere binnehuis te hou deur die aand asook in die oggende om hul erwe te loop en kyk vir enige iets verdag.
“As jy vermoed jou honde is vergiftig, is die volgende wenke dalk net wat hul lewe kan red terwyl jy haas na die naaste veearts toe; “charcoal” pille wat verkrybaar is by enige veearts. Maar as jy nie in besit is van die pille nie dan kan ’n mens ook waspoeier in ’n bolletjie met water aanmaak en in jou hond se keel afdruk. Die eienaar sal dan die hond dadelik moet maak opbring sodat die gif uit kan kom. Dis van noodbelang om altyd ’n veearts se noodnommer byderhand te hou,” het Bezuidenhout ten slotte gesê.
