CrimeNews

Die weerlig slaan weer toe

Meeste inwoners ag hul huise tog die veiligste plek

Die weerlig in eMalahleni raak by tye so swaar – nog ’n inwoner het onder weerligstrale deurgeloop.

Soos die wolke toetrek oor die stad en donderweer begin dreun het op 31 Januarie, het inwoners gehaas na ’n veilige plek.

Meeste inwoners ag hul huise tog die veiligste plek om skuiling te vind in sulke storms, maar vir me. Ruth Prinsloo was dit nie so nie.

“Ek was op daardie oomblik besig om kos te maak toe die weer opsteek. Die weer was nie eens so swaar nie,” het Prinsloo begin vertel.
Terwyl sy doenig was in haar kombuis het sy ’n vreeslike slag gehoor en besef sy is besig om geskok te word. “In daardie oomblik het ek net bly bid en gesê Here help my asseblief en daar val ek toe net neer op die kombuisvloer,” het sy bygelas.

Alhoewel sy nie geweet het hoe lank sy daar gelê het nie, het sy weer bygekom maar was baie deurmekaar.

“Dit was ’n Gods wonderwerk dat ek in daardie stadium by my foon kon uitkom om my skoonseun te bel. Ek het net bly voel hoe geskok ek was terwyl my hele lyf bly brand het. Veral waar die straal my getref het aan my linker arm,” het sy gesê.

Minute na die voorval is Legacy Ambulansdienste op die toneel ontbied deur die South African Community Crime Watch (SACCW) waar hulle Prinsloo dadelik vir skok behandel het.

“In die hospitaal het ek darem weer tot my sinne gekom en net bietjie hoë bloeddruk gehad weens die skok waardeur my liggaam gegaan het. Niks het fout gegaan met my hart nie. Dit was eers toe ek by die huis kom dat ek en my man besef het hoe hard die weerlig die huis geslaan het,” het sy ook vertel.

Mure was gekraak en die muurprop wat tydens die voorval agter Prinsloo was, is uit die muur geslaan.

Elektriese toebehore is ook in die oomblik uitgeslaan gewees deur die weer,

“wat vir my wil vertel dat ek binne in die stroom gestaan het van die driehoek toe die krag geslaan is.”

Die Prinsloo gesin wil graag Legacy, Black Rhino Security en SACCW bedank vir hulle vinnige en effektiewe optrede.

“Ek is vas oortuig dat God ’n engel gestuur het om die krag van daardie weerligstraal te breek want dis ’n absolute wonderwerk dat ek lewe. Ons dien werklik ’n lewendige en almagtige God. Mag hierdie ’n getuienis wees vir mense om so te lewe dat jy gereed is as die dood kom soos ’n weerligstraal,” het sy dankbaar ten slotte gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button