’n Wolk van emosies het ’n stampvol Evangelies Gereformeerde Kerk omvou.
Op Maandag 4 Februarie om 11:00 het familie en vriende die laaste afskeid van Maryka Bezuidenhout geneem by haar gedenkdiens.
Medelye het op sosiale media ingestroom die afgelope week na die artikel in die WITBANK NUUS van 1 Februarie waar ’n hartseer mnr. Johan Bezuidenhout, Maryka se pa, die verhaal weergegee het.
Hy het vertel hoe Maryka glo saam met kapt. Awie Geldenhuys van Witbank Polisiestasie in Geldenhuys se motor was en toe na bewering uit die bewegende motor gespring het.

“Hy kon ons nie eers bel en sê dat ons kind daardie Sondagaand al dood is nie. Ons moes Maandagoggend na 09:00 uitvind by vriende in Lydenburg,” het Bezuidenhout vertel.
Op Dinsdag 5 Februarie het Johan en Petro (Maryka se ma) gesê dit gaan maar nog moeilik maar dat hulle kop bo water hou.
“Deur die dag gaan ons aan, maar dis in die aand wanneer jy in die bed lê dat alles in jou kop ronddwaal. Ons het al met so baie mense gepraat, maar ons is steeds nie seker wat daardie aan gebeur het nie. Ons is net dankbaar vir almal se bystand,” het Bezuidenhout verder gesê.
Brig. Leonard Hlathi, provinsiale woordvoerder van die polisie het gesê dat ’n interne ondersoek tans onderweg is in die ondersoek van Geldenhuys.
Dit sal bevestig of sy dienste by die Witbank Polisie opgeskort gaan word.
Geen verdere inligting aangaande die ondersoek deur OPOD (Onafhanklike Polisie Ondersoekende Direktoraat) is nog bekend nie.
LEES MEER: ‘Hoe is ons dogter dood op die N11?’ https://www.citizen.co.za/witbank-news/120258/hoe-ons-dogter-dood-op-die-n11/
