Dit gaan beter met me. Martie Venter. Alhoewel sy steeds in die intensiewesorgeenheid is, is sy stabiel.
Mnr. Marius Venter, haar seun het gesê dat dokters haar dié week stadig uit sedasie sal begin neem.
Sy pa, mnr. Manie Venter se begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie omdat die familie vir tannie Marie wag om sodoende te herstel om haar man se begrafnis by te woon.
Ooggetuies het gesê die Venter-egpaar en die bekende bedelaar me. Dora Theunissen is op Woensdag, 30 Januarie beseer toe ’n Toyota Quantum minibus ’n motor wat gestop het omdat die verkeerslig rooi was, aan die kant verbygesteek het.
Die minibus het Dora gestamp, uitgeswaai en die Venters se blou Kia getref wat aan die teenoorgestelde kant van die pad ook by die rooi verkeerslig gewag het.
Me. Charlotte van der Sandt, Dora se skoonma, het gesê dit gaan goed met Dora.
“Sy is by haar huis en haar been is in gips,” het Van der Sandt gesê.
Die bestuurder van die minibus, mnr. Maculodo Nkosi het gesê hy kan nie onthou wat tydens die ongeluk gebeur het nie. Hy het gesê hy en sy passasier was in Witbank Hospitaal opgeneem vir observasie en kort daarna ontslaan.
Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.
Munisipale woordvoerder, mnr. Kingdom Mabuza het gesê die munisipale wetstoepassingseenheid verwyder gereeld bedelaars.
“Daar is tans geen spesifieke bywet wat daarop gemik is om bedelaars aan te spreek nie. Ons maak staat op munisipale bywette wat daarop gemik is om enige iemand wat die verkeer ontwrig aan te spreek en te verwyder,” het Mabuza gesê.
Hy het ook gesê dat onwettige immigrante gereeld by verkeersligte verwyder word en hulle aan die Departement van Binnelandse Sake oorgegee word.
Lees Meer: Saak van strafbare manslag word ondersoek na ongeluk https://www.citizen.co.za/witbank-news/121084/saak-van-strafbare-manslag-word-ondersoek-na-ongeluk/
Lees Meer: OPVOLG: Bid vir Tannie Martie https://www.citizen.co.za/witbank-news/120317/opvolg-bid-vir-tannie-martie-2/
