Onwetend, terwyl klante smul aan hul voorgereg, hoofgereg en nageregte is rowers besig om ’n bekende restaurant te roof.
’n Klant en haar man, me. Tash Tatton het besluit om by Spur in Ben Fleur hul negende huweliksherdenking te vier op 25 Februarie.
Dit was tydens middagete en die drie enkele tafels waar klante hulself gemaklik gemaak het in die nie-rokers area het rustig hul maaltye geniet, insluitend Tash en Alan Tatton.
“Dit was ’n rustige atmosfeer, die diens was flink en die atmosfeer rustig. Ek het so gesit waar ek die deur kon sien en my man oorkant my, hy kon in die rokers-area insien. Ek het nie eers die drie mans die restaurant sien binnekom nie, of die een wat na die bestuurder se kantoor gegaan het nie. Ek het opgestaan om te gaan rook in die rokersarea en intussen kon my man nie verstaan hoekom sy volgende bier sloer nie,” het me. Tatton vertel.
“Hy het toe maar besluit om op te staan en na die kroeg te gaan, wat langs die kantoor is –op soek na iemand om sy bestelling te neem. Ek was so verleë en het met alle mag hom probeer wys dat hy net moet gaan sit. Hy moes net geduldig wag!”
Me. Tatton het verder vertel dat nadat sy weer haar plek by hul tafel ingeneem het, die verslae kelnerin kom verskoning maak het en vertel hoe hul bestuurder tans deur gewapende mans beroof is.
“Dit met ’n geweer teen ’n baba se kop!” het me. Tatton gesê.
“Ons is diep geskok. Hoe wreedaardig moet dit wees vir iemand om deur sulke trauma te gaan? Ek was selfs meer geskok, want van my siening… ons het nie eers geweet wat is besig om te ontvou nie. Ek dink wat my dieper skok is die feit dat ons ongeveer 45 minute na die roof die restaurant verlaat het en daar steeds geen polisie in sig was nie,” het sy verder vertel.
Me. Tatton het ook bygevoeg dat CSC Tactical en Legacy Ambulansdienste binne minute op die toneel was, maar die polisie is ’n heel ander storie.
Die bestuurder van die restaurant het egter aan die polisie vertel dat sy en haar kleinkind by die restaurant was en sy iets soos ’n geweerskoot gehoor het.
Sy het nie veel notisie geneem daarvan nie, maar sy geskrik het toe sy skielik vreemde stemme agter haar hoor, en vir geld vra.
Sy het bygevoeg dat die mans gewapen was en die kluis oopgemaak het soos die verdagte mans beveel het.
Daar was nie geld in die eerste kluis nie maar wel in die tweede kluis. Haar selfoon is ook in die voorval gesteel.
Die bestuurder het bygevoeg hoe sy na die voorval verslae op die vloer bly sit het, en een van die werknemers haar kom help het.
Die verdagtes is weg met ’n onbekende bedrag geld, en geen arrestasies is in die voorval gemaak nie.
Mnr. Ludwig Sistenich, eienaar van die Spur, het gesê hulle het reeds begin om hul sekuriteit op te skerp.
Sistenich het genoem dat alternatiewe sekuriteitsmaatreëls ook by die gewilde eetplek nou toegepas word.
“Ons nooi ons gaste om met geruste harte hul families na die Spur in Ben Fleur Boulevard te bring,” het hy gesê.
Me. Monica Joao, woordvoerder van Ben fleur Boulevard Sentrum het by Sistenich aangesluit en genoem dat die publiek meer sekuriteit sal waarneem.
Sy het ook genoem dat hulle poog om dié sentrum die veiligste in die stad te maak.
