By elke indraai van ’n woongebied in eMalahleni pronk daar links en regs vullissakke wat daagliks ophoop.
Met weeklikse hoop sit inwoners getrou hul vullissakke uit soos die skedule al vir jare werk, maar tevergeefs word dit as hul gelukkig is, elke derde week verwyder deur die vullisverwyderaars van die munisipaliteit.
“Ons klagtes val op dowe ore, want as dit nie is oor die dienslewering van water, elektrisiteit of instandhouding nie, duik daar net weer iets anders op. Van kla en kerm is almal al moeg,” het dié moedelose inwoner, Annelie de Waal van Reynorif gesê.
Nόg klagtes van die patetiese dienslewering van ons steenkooldorp het ingestroom by die WITBANK NUUS.
Na alle klagtes is daar tot die slotsom gekom dat meer as vier areas in eMalahleni met dieselfde “vuil” probleem sit.
“Daar is niks, maar niks wat ons as betalende inwoners kan doen behalwe nog uitgawes aangaan om dit self te doen nie,” het ’n inwoner van Blancheville ook bygelas.
Na verdere ondersoek ingestel is oor die bywette oor menslike regte, is daar verklaar dat elke mens in ons dorp geregtig is op hierdie basiese dienste.
Die munisipaliteit se wet op vullis en vaste afval en sanitêre bywette dienste implementeer “dat eMalahleni se Munisipaliteit na regte in beheer is van alle vullisverwydering en sanitêre bywette dienste.”
Die munisipale woordvoerder, mnr. Kingdom Mabuza het gesê, “ons is bewus van die agterstand met die vullisverwydering.
Ons het ’n paar tegniese uitdagings ondervind, maar hierdie week gaan ons by die skedule hou en alle vullis sal uit die weg geruim word volgens die weeklikse reëling.
Wat ook onder WITBANK NUUS se aandag gebring is deur die inwoners is dat as daar wel dienslewering na ’n lang tyd se gesukkel gelewer word, is dit snaaks genoeg net op ’n Saterdag of Sondag.
’n Skeptiese inwoner het ten einde gevra,
“is die werknemers se werktye dan nie van Maandae tot Vrydae nie of pas dit hulle om eerder oortyd te werk op naweke en dubbel die betaling te kry?”
