Mnr. Anthony Philips is beskryf as ’n saggeaarde, vriendelike man wat niemand leed sou aandoen nie.
Maar op 16 Maart moes dié geliefde inwoner van Schoongezicht met sy lewe boet nadat hy by sy huis in aangeval en vir dood agtergelaat is.
Volgens ’n polisieverslag was Philips nie tuis ten tyde van ’n inbraak by sy huis nie.
Volgens die polisieverslag blyk dit dat hy egter te midde van die inbraak opgedaag en die diewe op heterdaad betrap het.
Wat presies gebeur het is nog onbekend, maar Philips is erg aangerand. Sy vrou, wat later tuisgekom het, het hom in ’n plas bloed op die vloer aangetref.
“Ons het die staatsambulans gebel, maar hulle het net nie hier uitgekom nie. Ons het toe vir Anthony self na Witbank Hospitaal gevat. Ek het hom gevra of hy die mense ken wat dit aan hom gedoen het. Toe knik hy sy kop, ja. As gevolg van sy beserings kon hy nie ’n woord uiter nie, alhoewel hy ons probeer sê het wie in sy huis was. Ons het kort daarna geloop en hy is oorlede. As ons net weet wie dit aan hom gedoen het,” het ’n desperate mnr. Ernest Smith, Philips se swaer, vertel.
Hy het bygevoeg dat die gesin se televisie, klanksisteem en verskeie ander items, gesteel is.
“Die gemeenskap is in rou gedompel na Anthony se dood. Hy het almal geken, almal altyd gegroet en was geliefd in die gemeenskap. Hy was so plat op die aarde man, hy het nooit baklei nie,” het Smith gesê.
Die gesin is desperaat vir antwoorde oor wat daardie noodlottige dag gebeur het.
“Ons hoop die polisie spoor die skuldiges op en sit hulle vir goed agter tralies,” het Smith ten slotte gesê.
Philips laat sy vrou en twee dogters agter. Sy begrafnis het op Saterdag, 23 Maart plaasgevind.
Die oorspronklike saak van huisroof wat by Vosman Polisie geopen is, is na moord verander en word ondersoek.
