Man gevang na hy selfoon steel
Na ’n lang soektog het lede van die SACCW en ook Celeste se man, die verdagte vasgetrek met die gesteelde selfoon in sy besit

Goeie samaritane bestaan wel nog.
Dit is bewys nadat ’n gesin gestop het om ’n vrou te help nadat haar selfoon op Saterdag 13 April gesteel is.
Me. Celeste Swart het vertel dat hulle op pad terug huis toe was toe hulle ’n vrou oor die pad sien hardloop en kort op haar hakke, ’n man.
“Ek het vir my man gesê ons moet stop en vra wat aangaan, en ons het omgedraai. Die man het vertel dat hulle pas die dame se selfoon gesteel het, en ek het op die SACCW (South African Community Crime Watch) se kanaal ingeroep en vir hulp gevra. Die dame was so in skok, sy kon nie onthou wat hy aangehad het nie, maar wel dat hy ’n maroen baadjie aangehad het.”
Na ’n lang soektog het lede van die SACCW en ook Celeste se man, die verdagte vasgetrek met die gesteelde selfoon in sy besit.
Me. Maureen Scheepers, operasie koördineerder van die SACCW het gesê dat talle reaksielede die area waarin die verdagte moontlik sou hardloop gefynkam het, nadat bogenoemde beskrywing van die verdagte deurgegee is.
Nico Coetzee, saam met talle ander reaksielede en Celeste se man het die verdagte in Modelpark vasgetrek.
Maureen het bygeveog: “Dit is fantasties dat die publiek die oop kanaal gebruik waarvoor ons dit gestig het, as ons almal ons oë oophou en ons medemens probeer bystaan, is dit die suksesse wat behaal kan word.”
Celeste het ook bygevoeg dat hulle die verdagte na die polisiestasie geneem het vir ’n verklaring.
“Ons is baie dankbaar dat ons kon help, en dit was baie lekker,” het sy ten slotte gesê.
Die slagoffer was nie beskikbaar vir kommentaar teen druktyd nie.
