Local newsNews

Man steel koperkabels maar kom sy moses teë

Hy het ten slotte gesê dat hierdie die hooflyn van kabels is wat na die spilpunt loop

’n Man het sy moses teëgekom nadat hy koperkabels probeer steel het by Riverview-plotte.

’n Inwoner het Donderdag 18 April ’n verdagte man gewaar en mnr. Piet Wassenaar van Seekoeiwater-plotte geskakel vir hulp.

“Ons het na die area gegaan, omdat ons al talle probleme hier gehad het. Ons het met Gordonstraat afgery en die informante van die ander rigting in Anniestraat. Ons het die man voorgekeer waar hy in die rigting van die rioolplaas geloop het en die kabels in sy besit gevind. Hy het ook bevestig waar hy dit gekry het en ons het na die plek gegaan, en ’n werknemer van die betrokke plot het bevestig dat dit hulle kabels is,” het Wassenaar gesê.

Me. Maureen Scheepers, operasie-koördineerder van die South African Community Crime Watch (SACCW) is intussen geskakel vir hulp en sy is ook uit na die area, en het die polisie ontbied.

“Ons het ’n hele paar ure by die toneel afgestaan, as gevolg van chaos wat uitgebreek en polisie wat vertraag was vir bystand, aangesien almal uit was na verskeie tonele in die stad. In hierdie tyd het die man erge onttrekkingsimptome begin wys, vermoedelik van die heroïne waaraan hy verslaaf is. Ek het hom vertel van die GEM (Greater Emalahleni)- projek, en ook in kontak gebring met Given Mavasa, stigter van GEM. Ek het vir hom gesê dat hy nie sommer net gaan loskom nie, hy moet eers sy straf uitdien vir hierdie misdaad, maar as hy ernstig is daaroor om gehelp te word, hy na Mavasa kan gaan sodra hy sy straf uitgedien het,” het Scheepers vertel.

Sy het bygevoeg dat sy nou betrokke is by GEM en dat sy nie alle misdadigers hierby betrek nie.

“Ek bepaal wie moontlike kandidate kan wees om gehelp te word en analiseer elke persoon en situasie. Jy kry slegte kriminele en ander wat gedryf word deur verslawing en/of omstandighede,” het Scheepers bygevoeg.

Wassenaar het bygevoeg dat die man gesê het dit is sy eerste keer dat hy ’n misdaad pleeg en dat hy sy samewerking gegee het.

“Hy het ook gesê dat daar twee ander mans saam hom was. Die manne het die area deursoek met die beskrywings, maar kon niemand sien nie.”

Hy het ten slotte gesê dat hierdie die hooflyn van kabels is wat na die spilpunt loop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button