Local newsNews

‘My ma sou hiér doodgegaan het’

Die suster het glo vir haar gesê sy kan wag tot 21:30 wanneer hulle die medikasie uitdeel

Witbank Hospitaal is deesdae baie in die nuus – met goeie rede.

Na twee klagtes in verlede week se WITBANK NUUS het nog ’n voorval aan die lig gekom van ’n vrou wat gaan hulp soek het by die hospitaal gedurende Paasnaweek, maar basies aan haar eie genade oorgelaat is.

“’n Hek het op my ma geval en ons is met haar hospitaal toe. Ons het die Vrydag, 19 April om ongeveer 03:30 daar aangekom. Daardie aand omstreeks 19:20 is sy eers vanuit ongevalle na ’n kamer geskuif. Ons het die hele naweek wat sy daar was, een dokter gesien, maar niemand kon ons sê wat my ma makeer nie. Hulle het haar op suurstof gehad. My pa het uit moedeloosheid besluit om my ma daardie Dinsdagoggend uit te teken. Die suster het vir hom gesê: ‘I think it’s better that way’” het me. Susan Viljoen* vertel.

Viljoen het vertel hoe hulle konstant by haar ma was, aangesien hulle haar nie alleen wou los nie.

“Ek het my ma die Dinsdagoggend net na vyf gebel en sy het gesê my pa moet haar gaan haal. Daar was geen dokter by haar die hele naweek nie. Ek het haar eenkeer help urineer in ’n pan. Die pan het die hele dag langs haar bed gestaan. ’n Inspuiting, waarmee hulle haar vroeër ingespuit het, is net so op die vloer langs my ma se bed gelos,” het Viljoen verder gesê.
Volgens Viljoen het hulle teen die Dinsdag nog nie geweet wat haar ma makeer nie. Indien sy een van die susters geroep het, het hulle haar glo gevra: ‘why are you yelling at us’?
“Hoewel my ma nie sonder suurstof kon klaarkom nie, kon hulle ons steeds nie sê wat fout is met haar nie.”

Viljoen het bygelas dat haar ma die een aand gevra het vir pynmedikasie.

Die suster het glo vir haar gesê sy kan wag tot 21:30 wanneer hulle die medikasie uitdeel.

Volgens Viljoen se ma het sy daardie aand na middernag eers iets gekry vir die pyn.

“Ek het hulle gevra vir iets vir my ma se maag, aangesien hulle haar net vol medisyne stop en dit haar maag geaffekteer het. My ma kon nie loop nie, omdat sy seer gehad het en konstant op suurstof was. Maar hulle gee vir haar kasterolie om te drink!”

Viljoen het gesê dat hulle haar ma gelukkig in ’n ander hospitaal in Pretoria laat opneem het en dat sy tans baie goed aansterk.

“Ons weet nou dat my ma ’n opening in haar een long het wat bloei. Die bloed veroorsaak dat die longe aan mekaar vasplak en dit belemmer haar asemhaling. Die bloed word tans gedreineer.”
Ten slotte het Viljoen vertel van die ‘groenerige korreltjies’ wat sy van die kos afgehaal het. Daar was glo ook kos wat in die gange gemors is en wat vir dae aaneen daar gelê het.
“Indien jy vra na ’n dokter, sê die susters dat die dokters af is. My ma sou doodgegaan het in Witbank Hospitaal.”

*Die Departement van Gesondheid is Maandag, 29 April gekontak in dié verband, maar geen terugvoer is ontvang teen druktyd nie.

*Skuilnaam gebruik. Name van persone is op hul versoek weerhou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button