Trokbande is gesteel en volgens die polisie is dit die derde trok in minder as twee maande wat gekaap is.
’n Toesighouer van die betrokke besigheid het vertel van die groot probleem wat dié misdaad tans is.
“Ons het splinternuwe bande – slegs twee weke oud verloor, en ek verneem dat die ander trokke van ’n ander besigheid ook splinternuwe bande opgehad het,” het mnr. Jacques van Noordwyk, toesighouer van die betrokke besigheid gesê.

Hy het vertel: “Die bestuurder is ongeveer 03:30 die oggend uit en naby Blackhill op die R555 is daar met die noodremme gepeuter. Dié remme word gewoonlik in die werkswinkel gebruik en toe die bestuurder uitklim om te kyk wat skort met die trok, is hy deur die rowers oorval. Hy het gesê hy dink die ses rowers is van Zimbabwe, want hy het nie hulle taal verstaan nie. Hulle het die bestuurder toegerol in ’n kombers in die trok en so entjie verder gery tot by ’n nabygeleë boer se land,” het Van Noordwyk vertel.
Hy het verder gesê dat hulle vermoed dat iemand die diewe gepla het, want van die 26 bande op die trok is slegs 12 gesteel, die res is op die trok gelos. Vier van die sleepwa se wiele is gesteel en agt van die trok.
“Die bestuurder is so ent van die trok af vasgemaak en die diewe het hom deur die gesig geslaan. Ons het opgemerk op die trok se opsporingstoestel dat dit ’n hele ruk stilstaan, van sy roete af. Ons het gaan kyk en op dié toneel afgekom. Die kamera binne die trok is ook toegegooi.”

Van Noordwyk het verder gesê dat die rowers beslis daarop uit was om die bande te steel, aangesien niks anders gesteel is nie.
“Nie eens die battery is gesteel nie, net dié se deksels is afgehaal.”
Hy het bygevoeg: “Elke besigheid het hul eie ‘branding’ op die bande. Daar is nommers op die bande saam die maatskappy se ‘voorletters’. Ons vermoed hulle skraap net die ‘branding’ af en verkoop die bande weer. Die bande is baie duur om aan te koop, hulle verkoop dit tien teen een aan kleiner besighede,” het Van Noordwyk gesê.
Hy raai die publiek aan dat indien enigeen sulke trokbande teëkom, hulle dit na die polisie moet neem.
Hy het ten slotte bygevoeg dat die polisie op die toneel gesê het dat hulle reeds baie gekaapte voertuie uit die spesifieke area verwyder het.
