MunicipalNews

Dorp se riool los vissies dood en eienaar raadop

In Augustus 2016 het Carte Blanche ook ondersoek ingestel oor die riool wat vrylik vloei deur die rivier.

Riool vloei vrylik deur die plaasdammetjie van mnr. Kat Smit, reg in die klein Olifantsrivier in wat na Loskop toe vloei.

WITBANK NUUS het al van 2016 konstant berig gelewer oor die haglike rioolprobleem wat die inwoners oral in en om die steenkooldorp beleef, maar tot hede is dié rioolprobleem nog die ergste.

“Ek het om en by so twee of drie jaar terug die dammetjie tot nuut oorgedoen met die doel om vir inwoners ’n lekker visvang-plekkie te stig. Dit het my oor die R2-miljoen Rand uit die sak gejaag om alles reg te kry asook visse in die dammetjie te sit,” het Smit vertel.

WITBANK NUUS het na Smit se tuiste van 40 jaar gegaan om die probleem self te ervaar en die stank het dadelik sy klagte bevestig.

“Daar is al talle toetse gedoen deur die munisipaliteit, maar dan kom die toetse as heel ‘normaal’ terug en bevestig hulle dat die water wel bruikbaar is. Maar lyk dit of ruik dit bruikbaar? As jy lank genoeg hier kan staan, sal jy ook sien as mense in Riverview begin wasgoed was,” het hy bygelas terwyl hy verder beduie het hoe erg die probleem werklik is. ’n Entjie verder loop ’n stroom van Smit se dammetjie af in die klein Olifantsrivier waar bolle en bolle skuim opdam. Met nadere inspeksie lê dooie visse in hope soos die stroom hulle afvat in die stroom, dan sê Smit weer moedeloos, “lyk dit vir jou enigsins normaal? Ek bel die munisipaliteit op ’n daaglikse basis, net om agter die kap van die byl te kom, maar dit val op dooie ore. Ek het hulle vooraf gesê dat ek koerant toe gaan met die probleem waarop die dame op die telefoon vir my gelag het en gesê het ek moet maar na die media toe gaan en kyk wat hulle kan doen,” het hy vies vertel.

In Augustus 2016 het Carte Blanche ook ondersoek ingestel oor die riool wat vrylik vloei deur die rivier.

Op die program het verskeie rolspelers gedebatteer oor die toestand van hierdie rivier en die toestand van die water.

Omgewingsbesoedeling speel ’n kommerwekkende rol in hierdie rivier en dit is ’n reuse probleem, regdeur Suid-Afrika, het WITBANK NUUS destyds berig gelewer.

Mnr. Lebohang Mofokeng, mediawoordvoerder van die Emalahleni Munisipaliteit het geen terugvoering gehad voor druktyd nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button