Familie wag steeds vir antwoorde
Kapt. Geldenhuys se diens is ook intussen by die Witbank Polisiestasie opgeskort
Die Bezuidenhout-familie wag steeds vir antwoorde na hul dogter se skielike dood vroeër vanjaar.
Op 27 Januarie is Maryka Bezuidenhout in ’n ongeluk dood op die N11 Loskopdampad.
Sy was in die geselskap van kapt. Awie Geldenhuys tydens die ongeluk en OPOD (Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat) het die saak oorgeneem vir verdere ondersoek.
Kapt. Geldenhuys se diens is ook intussen by die Witbank Polisiestasie opgeskort.
Die provinsiale woordvoerder, brig. Leonard Hlathi het op Dinsdag 30 Julie bevestig dat daar ’n interne ondersoek aan die gang is, maar dat hy nie kommentaar hieroor kan lewer nie.
Die woordvoerder van OPOD, mnr. Sontaga Seisa het bevestig dat die ondersoek op ’n gevorderde vlak is en dat hulle steeds wag vir die tegniese verslae voor die saak aan die kantoor van die Direkteur van Publieke Vervolging vir ’n finale besluit oorhandig kan word.
Intussen staan die Bezuidenhouts steeds voor ’n lot onbeantwoorde vrae; wat daardie aand gebeur het en hoekom hul dogter se lewe so skielik weggevat is.
