Rowers is alles oor drank, geld en geweld
Besigheidsrooftogte is ’n nare realiteit in eMalahleni vir beide inwoners en besigheidseienaars

Rowers smag na drank en geld en sal selfs geweld toepas om te kry wat hulle soek.
Besigheidsrooftogte is ’n nare realiteit in eMalahleni vir beide inwoners en besigheidseienaars.
Die afgelope week is nog ’n handvol rooftogte aangemeld by Witbank Polisiestasie, onder andere vier rooftogte by verskeie drankwinkels en kuierplekke in die Sentrale Besigheidsgebied (SBG).
Op die middag van 1 Augustus het drie gewapende verdagtes in ’n drankwinkel wat geleë is in Kromhoutstraat ingebars en glo kassiere een vir een met ’n wapen gedreig en aangedring op die kontant in die kasregisters.
Dit word verder beweer dat die rowers toe ook die werknemers se selfone gevat het en daarna in ’n kliënt se bakkie gevlug het, glo in Lynnville se rigting.
WITBANK NUUS het kontak gemaak met die persoon wat die klag gaan lê het by die polisiestasie, maar kon geen kommentaar verkry nie, weens die besigheid se bestuur se reëls en regulasies.
In ’n ander voorval is nog twee werkers wat by ’n bekende drankwinkel werk in die SBG glo oorval deur twee verdagte rowers.
Die voorval het op 2 Augustus net voor handelsure plaasgevind toe die twee werkers aangemeld het vir werk.
“Ek en my vriend was besig om aan te meld vir werk toe ons twee mans sien afpyl op ons. Hulle het hul gesigte verbloem en weggesteek voor hulle ’n vuurwapen op ons gerig het,” het die werker wat anoniem wil bly, gesê.
Daarna is die twee slagoffers in die winkel in gedwing waar hulle glo die kasregisters moes leegmaak en vir die verdagte rowers gee.
Voor die rowers op vlug geslaan het, het hulle eers hulself gehelp met ’n paar bottels drank.
In nog ’n geval op 2 Augustus is ’n kroeg ook in die SBG beroof van drank en selfone.
Die kliënt wat ten tye van die rooftog by die bestemming was, het beweer dat hy nog besig was om geld uit sy broeksak te haal toe hy ewe skielik iets hard teen sy rug voel, “ek het omgedraai om te sien wie so teen my stamp en daar kyk ek in ’n rower se gesig vas,” het mnr. Fanjan Tladi vertel. Die rowers het toe met Tladi se selfoon en die onbetaalde bier gevlug, “ek weet nie wat hulle gebruik het om my te laat skrik nie, maar op daardie oomblik dink jy die ergste. So, dis hoekom ek maar net oorgegee het,” het Tladi ten slotte gesê.
Op 4 Augustus het ’n populêre nagklub in die SBG onder rowers deurgeloop met toemaaktyd.
Daar word beweer dat ’n verdagte rower in die klub ingestap het terwyl twee werkers nog besig was om skoon te maak en die kasregister se geld te tel.
Die rower het glo niks gesê nie en na een van die werkers geloop en hom in sy linkerbeen geskiet.
Na bewering het die rower toe na die kroeg gestap waar hy al die kontant gevat en gevlug het.
Die eienaar van die besigheid kon ongelukkig nie voor druktyd bereik word vir kommentaar nie.
