Verkragtings skiet die hoogte in
Dit wil blyk dat al hoe meer en meer minderjarige slagoffers die teiken is vir die booswigte

Die aantal verkragtingklagtes wat deesdae in eMalahleni gerapporteer word, is skrikwekkend soos die misdaad handuit ruk na nog verkragtingvoorvalle vandeesweek geopen is.
Dit wil blyk dat al hoe meer en meer minderjarige slagoffers die teiken is vir die booswigte.
Op 20 Augustus is daar glo ’n 10-jarige seuntjie deur ’n familielid verkrag gedurende ’n naweek wat hy glo daar gekuier het.
Daar word verder beweer dat die slagoffer na sy kuiertjie tuis gekom het met vreeslike swere op sy mond en privaat dele.
Toe sy ma hom uitvra oor die saak, het hy beweer dat sy oom ‘lelike’ goed met hom gedoen het. Die ma het dadelik haar seun vir ’n ondersoek geneem en ’n saak gaan open.
In nog ’n voorval is die slagoffer glo wreed deur haar eie kêrel verkrag.
Dit word beweer dat haar kêrel te veel gedrink het en toe aggressief geword het teenoor haar.
Hy het haar toe na bewering eers hardhandig behandel en toe vasgebind en herhaaldelik verkrag.
Sy het glo geslaag om te vlug van die verdagte en na die polisiestasie gegaan vir hulp en om ’n saak te open.
