Mesdood-saak al ses keer uitgestel
Landdros Theo Kleynhans was woedend omdat hy die saak weereens moes uitstel
In Kriel begraafplaas is die blomme op Johan Fourie se graf nog vars.
Fourie se ma, me. Santie Radley gaan gereeld graf toe en huil.
Haar trane maak nie die seer binne in haar gesond nie.
Dis ’n seer wat nooit weggaan nie.
Inteendeel, elke keer as sy daar was, los sy nog ’n stukkie van haar hart agter.
Sy was juis onlangs by Fourie se graf nadat sy Maandag 9 September agter die drie mans, wat vir haar seun se moord aangekla is, in die hofsaal by Kriel Landdroshof gesit het, net om te hoor die saak is weer uitgestel.
“Ek is moeg. Ek is waaragtig tot in my siel in moeg. Ek het agter die drie gesit en net na hulle hande gestaar. Dit was daardie hande wat my kind so wreed vermoor het.”
Landdros Theo Kleynhans was woedend omdat hy die saak weereens moes uitstel.
Hy het aan die polisie se ondersoekbeampte gesê dat die saak al ses keer voorgekom het en na vier maande is die vierde verdagte nie opgespoor nie.
Hy het die ondersoekbeampte tot 14 Oktober gegee om met antwoorde terug te kom.
Die saak spruit uit ’n voorval op 1 Mei toe die 32-jarige Fourie doodgesteek is na ’n onderonsie by ’n plaaslike geriefswinkel.
Fourie het omstreeks 23:30 by die geriefswinkel by ’n plaaslike vulstasie gestop om iets te koop.
Videomateriaal wys ’n onderonsie tussen Fourie en nog ’n bestuurder wat voor hom gestop het.
Die materiaal wys ook hoe Fourie en die ander bestuurder handskud.
Dan stop ’n wit Volkswagen Polo op die toneel en dinge neem ’n drastiese wending.
Tydens ’n bakleiery wat glo tussen Fourie en die insittendes van die Polo plaasgevind het, is hy doodgesteek.
