Local newsNews

‘Bloedsusters’ maak nou ook tonele hiér skoon

‘Crime Scene and Trauma Clean Up’ is deel van die Bloedsusters en het ook nou hul deure hier in die stad oopgemaak waar hulle voortaan sal help met opruimingswerk op sulke tonele

Die Bloedsusters het bekendheid verwerf in Suid-Afrika nadat hulle 19 jaar gelede begin het met die skoonmaak van misdaad- en traumatonele – ’n werk waarvoor meeste mense nie voor kans sien nie of van wegskram.

‘Crime Scene and Trauma Clean Up’ is deel van die Bloedsusters en het ook nou hul deure hier in die stad oopgemaak waar hulle voortaan sal help met opruimingswerk op sulke tonele.

Die egpaar Marelize en Benjamin van den Berg, wat die plaaslike tak sal beman, sê hulle leef ’n passie uit wat spruit uit ’n persoonlike ondervinding, maar dis uit liefde dat hulle doen wat hulle doen.

Marelize het vertel dat na haar pa se afsterwe jare gelede wil sy die erns beklemtoon van hoe belangrik dit is om tonele behoorlik skoon te maak.

“Jy besef nie wat daar agterbly nie. Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie. Ons gebruik chemikalieë wat in ’n laboratorium gemaak word om te verseker dat absoluut niks oorbly nie. Ons haal matte uit en skrop die sement, ons haal deure af en was oral. Ek kan die erns nie genoeg beklemtoon nie.”

Dié egpaar is op roep vanaf Bronkhorstspruit tot Nelspruit.

Dit sluit eMalahleni, Middelburg, Carolina en meer in.

“Die sielkundige trauma waardeur jy gaan wanneer jy ’n toneel self skoonmaak is ondenkbaar, ongeag hoe sterk jy dink jy is. Dit het ek self ervaar,” het Marelize bygevoeg. “Daar is ook soveel dinge wat jy in ag moet neem. Die oorledene kon dalk ’n draer van ’n siekte gewees het en jy weet dit nie. As die toneel nie mooi skoongemaak word nie, kan iemand daardie siekte optel. Ons verwyder honde wat dalk vergiftig is en maak om dit ook skoon. Sodra ’n dier sterf, los hy dalk van die gif agter op die gras. Jou kind laat val dalk sy suigstokkie op die gras en sit dit weer in hul mond,” het Marelize verduidelik.

Die ‘skoonmakers’ is die laaste mense op die toneel en kort ’n geldige polisie saaknommer voor hulle met die skoonmaakproses kan begin.

Met hul ultraviolet-ligte verseker hulle egter dat daar nie ’n druppel van enigiets op die toneel agterbly nie.

Marelize en Benjamin sê hulle werk goed saam as egpaar, “Ons ken mekaar se sterk- en swakpunte. Ek weet waarvan Marelize nie hou nie en sy weet waarmee ek nie gemaklik is nie. Ons vul mekaar aan en dit help ook met die emosionele deel om mekaar so goed te ken. Almal in die bedryf is man en vrou, broer of suster of baie nabye familie. Jy moet die ander persoon saam wie jy werk goed ken en presies weet wat hulle mee gemaklik is, of dan nie,” het Benjamin gesê.

Die egpaar het vertel dat ’n toneel tussen 1 en 40 ure kan neem om skoon te maak, soms langer.

Dan help ander mense van ander takke met die werk.

Die hele skoonmaak-proses word anoniem gehou.

“Ons neem wel foto’s, maar dit is net vir ons eie beskerming oor wat in die huis was, wat gebreek is en wat vuil was. Sodat ons dit vir ons eie rekords kan gebruik en as bewysstukke kan indien,” vertel Marelize.

Die egpaar het vertel dat hulle vreeslik opgewonde is vir dit wat die toekoms vir hulle inhou in hul nuwe avontuur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button