Plakker of ‘camper’ langs die paaie
Dit is nie net die ‘klipvrou’ wat ’n probleem raak vir inwoners nie, maar ook die swerwers wat alombekend in die Steenkoolstad is
Die afgelope tyd begin al hoe meer inwoners kla oor die hawelose mense wat oral begin ‘kamp’ opslaan langs die besige paaie van eMalahleni.
“Ek het weer die naweek gesien hoe ’n gesin van drie hulle plekkie inrig vir die nag op ’n baie besige kruising op die R555,” het een van die inwoners gesê.
WITBANK NUUS asook die inwoners is al jare bekend met die ‘klipvrou’ wat haar plekkie langs Mandelarylaan ingerig het, maar volgens Johan Rossouw begin dit ’n seeroog word.
“Ek verstaan die vrou het dalk nie ’n heenkome nie, maar om jouself sό in te rig met ’n bank en al, begin ons dorp sleg te laat lyk,” het Rossouw gesê.
Dit is nie net die ‘klipvrou’ wat ’n probleem raak vir inwoners nie, maar ook die swerwers wat alombekend in die Steenkoolstad is.
“Daar is ’n klompie mense wat saam-saam van een plek na die ander beweeg en elke week ’n nuwe plakplekkie het,” het Rossouw bygelas.
Ongelukkig is dit uit die polisie se hande om hierdie mense in die pad te steek en moet dit deur wetstoepassingsoffisiere gedoen word.
WITBANK NUUS het by die woordvoerder van die munisipaliteit, mnr. Lebo Mofokeng gaan aanklop vir ’n oplossing, maar kon geen terugvoer kry voor druktyd nie.
Munisipale wetstoepassers kan help in sommige gevalle waar haweloses probleme veroorsaak, maar sodra dinge handuit ruk, moet die polisie intree.
Wetstoepassers kan optree indien persone die munisipale verordeninge oortree, soos urineer en drink in die publiek.
Dit is nie net inwoners wat deur die haweloses geraak word nie, maar ook besighede soos daar ook klagtes van haweloses instroom wat oral in die middedorp en sentrale sakegebiede slaap.
“Waar ook al daar beskutting is soos agter klein krag-substasies, kantoor-ingange, straat-inhamme en selfs op die gras langs ’n skool, kantoor-kompleks of pad, daar sal hulle plak,” het Rossouw ten slotte gesê.
Kan jy as inwoner straat mense help?
As dit kom by die inwoners van eMalahleni staan hulle altyd reg om ’n handjie te gee waar ook al dit nodig is, maar kan ons straat mense help?
“Ongelukkig het baie mense al probeer help om die mense van die strate af te haal maar as ons weer sien dan is hulle terug,” het ’n inwoner gesê.
Wat inwoners wel kan doen is om deel te raak van die talle projekte en organisasies in eMalahleni vir haweloses dit sal darem bydrae tot voedsel vir die met die minste maar as dit kom by die straat bywette van eMalahleni is daar nog niks geïmplementeer nie.
