Die wêreld se kleinste perdjie is dood. River, wat op 31 Julie gebore is, was skaars 32cm hoog met geboorte.
Sy is egter met gebreklike beentjies gebore.
Sy het vinnig is almal se harte ingeklim en daar is onverpoos probeer om haar gebreklike beentjies reg te maak.
River se eienaar, me. Yolandie Kemp Bezuidenhout het haar beentjies elke dag verbind.
Sy het plastiekpype gevat, dit in die lengte deurgesny en met verbande verbind.
Haxleigh Farriers het ’n dokter saamgebring en daar is ingespring en stutte vir River se beentjies gemaak.
Dié plan het egter nie gewerk nie.
River het tydens haar eerste ontmoeting met mnr. Nicholaas Coetzer van Marx en Malan Ortopede holderstebolder in sy hart geklim.
Ook hy het planne beraam en stutte gemaak om haar beentjies reguit te maak, maar dit het ook nie gewerk nie.
Dokter Nolan Landman het ook aan boord gekom en op Donderdag 25 Julie x-straalplate van die woelige perdjie geneem.
Nog planne is beraam en spesiale skoene is van oorsee aangestuur vir River.
Intussen het River se gewig toegeneem en haar beentjies kon die druk nie meer hanteer nie.
Sy kon skaars opstaan.
“Vulletjies moet aktief bly, maar River se gebreklike beentjies het dit net te moeilik gemaak vir haar. Haar gewig het toegeneem en dit het net meer en meer stremming op haar beentjies en longetjies geplaas. Ek en Yolandie moes ’n besluit maak, gaan dit beter word en hoe vinnig gaan dit beter word. Ons was by ’n doodloopstraat en ons het besef haar organe bly nie by haar lyfie se groei nie,” het Dr Nolan gesê.
Op 9 Oktober kon daar net nie meer iets vir River gedoen word nie en dr. Nolan het River saggies verlos.
“ Jy was so braaf en het altyd probeer. So het jy my die moed gegee om ook nie moed op te gee nie. Ongelukkig het niks wat ons menslik kon doen, gewerk nie. Ek vra myself … wat as? Maar God het ’n plan met jou gehad. Jy het soveel harte geraak deur jou wilskrag tot die einde. Jammer ek kon nie meer vir jou doen nie!” het Yolandie op sosiale media geskryf.
Dis maar stil op Riverview Stables se werf, maar as jy jou oë toemaak, sien jy nog steeds vir River onder haar geliefkoosde boom lê.
As jy nog ’n rukkie in jou eie gedagtes afgesonder bly, dan sê jy dankie dat jy die wêreld se kleinste perdjie kon ontmoet, hoeveel ander kan dit sê?
