Local newsNews

My gees voel nie oud nie

Tannie Koekie het op ’n plaas net buite eMalahleni groot geword

Tannie Koekie Steynberg se grootste wens so net voor haar 92ste verjaarsdag is om weer haar Bybel te kan lees.

“Al wat ek begeer is ’n grootdruk Bybel sodat ek net weer die Woord van God kan lees.”

Sy meen dat haar oë is uiteindelik besig om na 92 jaar te verkalk.

Tannie Koekie is woonagtig in SAVF Immergroen Ouetehuis.

Sy woon al hier vir die afgelope jaar.

“Voordat ek hiernatoe geskuif het, het ek vir 10 jaar in Edenpark gebly,” vertel tannie Koekie.

Tannie Koekie het op ’n plaas net buite eMalahleni groot geword.

“Van my beste herinneringe is op daardie plaas, waar ek saam my ouers in die huis gebly het en elke dag kon perdry,” herroep sy.

Tannie Koekie het skool gegaan by Laerskool Suikerboskop net buite eMalahleni.

Sy vertel hoe sy ’n uitmuntende atleet was en dat sy baie goed kon hardloop.

Na skool het tannie Koekie in ’n groentewinkel op die dorp gaan werk waar sy sewe Pond per maand verdien het.

“Witbank het baie verander vanaf toe tot nou, al die plekke wat ek geken het en waar ek was, is afgebreek en onherkenbaar,” vertel tannie Koekie saggies.

“Ek wil nie so oud word nie, in my binneste voel ek nog jonk.”

Tannie Koekie glo vas dit is haar geloof in God en rustige lewe wat sy gelei het wat haar so lang lewe besorg.

“Ek het 40 jaar gelede tot bekering gekom, nie dat ek voor dit nie soet was nie, maar ek het toe eers besef wat God regtig vir my beteken,” verduidelik tannie Koekie met ’n glinster in haar oë.

Tannie Koekie meen dat sy geen vyande het nie en dat sy almal swart en wit ’n ‘pêl’ maak.

“Ek is lief vir almal en almal is my pêlle, swart of wit,” sê sy.

Tannie Koekie sal Donderdag, 17 Oktober haar 92ste verjaarsdag vier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button