Local newsNews

Babas met lap lyfies

Hulle dra gewoonlik 0 tot 3 maande kleertjies en die meeste van hulle het lap lyfies, wat hulle sag maak en maklik maak om te liefkoos

Duidelik is popspeel nie net vir klein dogtertjies nie, dit is duidelik wanneer jy met Ansomé Potgieter begin gesels oor die ‘reborn’ poppies wat sy self maak en wat soos regte babas lyk.

Hulle word met die hand geverf met ’n pragtige pigment, aartjies en baie fyn detail.

Sy maak die poppies van ’n sagte plastiek en jy kan hulle haartjies was en afvee.

Hulle dra gewoonlik 0 tot 3 maande kleertjies en die meeste van hulle het lap lyfies, wat hulle sag maak en maklik maak om te liefkoos.

“Ek het vier jaar terug my hart verloor op ’n poppie wat ek in ’n speelgoedwinkel gesien het. Ek wou bitter graag een hê, maar dit was baie duur. Ek het gehoor van ’n ander tannie in eMalahleni wat bereid was om my te leer hoe om my eie poppie te maak,” vertel Ansomé.

’n Dogtertjie wat Ansomé gemaak het.

“Glo my, dit het nie baie minder uitgewerk nie, maar was vir seker die beste geld wat ek bestee het.” Tannie Mara Snyders het ’n liefde in my wakker gemaak. Sy het self ’n groot liefde vir hierdie poppies en het my al die fynere dinge geleer wat ek nodig het om te weet,” vertel Ansomé met ’n glimlag.

Hierdie poppies vat ongeveer vier weke om klaar te maak, daar is verskaffers in Suid-Afrika wat hierdie poppies invoer.

As jy so poppie koop by die verskaffer, kry jy haar as net ʼn kop, arms en bene.

Dan moet jy nog die glas, pellets, lyfie, oë en oogwimpers bestel.

Voordat jy met jou poppie kan begin, moet sy gewas word en dan begin die verfproses.

Die poppies word geverf met Genesis Heat Set Paint en kry tussen 15 tot 20 lae verf.

Ansomé en Amoné Potgieter.

“Met elke laagie verf wat op jou poppie kom, word sy gebak, dan moet sy afkoel voordat jy weer aan haar kan werk. Ja dit klink soos verskriklike werk, maar ek geniet elke oomblik. Dis lekker om die poppies te begin sien lewe kry. Dan nadat al die verfwerk klaar is, moet die poppies haartjies kry en dit word met ’n naald ingedruk, een vir een. En daarna is dit tyd om jou poppie oë te gee en haar aanmekaar te sit,” vertel Ansomé.

Ansomé meen dat die oorsprong van haar idees van binne haarself af kom. Soms kry sy idees vanaf ander ‘reborn’ blaaie of selfs vanaf foto’s.

“Ons het elke jaar ’n poppie-mark waar ons ‘reborners’ bymekaar kom en leer van mekaar en so klein bietjie kompeteer met wat ons geverf het. Ek hou dan daarvan om buite die boks te dink in hierdie geval. Ek het ’n meermin geverf wat derde plek gekry het, ’n Avatar wat eerste plek gekry het en dan ’n mime waarmee ek eerste plek gekry het en met my harlekein het ek die derde plek losgeslaan.”

Ansomé meen dié kuns is vir seker haar passie.

Sy het steeds haar eerste ‘reborn’ baba wat sy self gemaak het.

“Iemand anders het toe ook een bestel toe sy myne sien. Ek was verskriklik opgewonde en was stomgeslaan dat iemand anders my handewerk waardeer, maar daardie oggend toe ek haar poppie moes aflaai, was vir my verskriklik. Ek het lief geword vir daardie poppie, en besef ek het my hele hart in hierdie poppie gesit net soos met my eerste een.”

Ansomé soen en druk nou nog haar poppies, al 385 van hulle voordat sy hulle boks en hulle na hul nuwe mammas toe stuur.

Daar is vir seker ’n mark vir hierdie poppies. Hierdie poppies maak weer die klein dogtertjie in volwasse vrouens wakker.

Die hartseer van hierdie poppies is dat nie almal hulle kan bekostig nie, maar elke dogtertjie wil een hê.

“My eerste jaar van pop maak het ek besluit om ’n poppie weg te gee vir ’n dogtertjie wat se ouers nie dit kan bekostig nie, van toe af gee ek elke jaar drie poppies weg vir drie dogtertjies reg oor Suid-Afrika. Dis die mees vervullende gevoel om daardie kinders se gesiggies te sien as hulle so baba kry,” vertel Ansomé opgewonde.

Die kinders is blykbaar baie lief vir hierdie poppies en liefkoos hulle gewoonlik so dat hulle die verf afwas en al die haartjies uitkam.

Dit blyk nie ’n probleem te wees nie omdat hierdie poppies weer geverf en nuut gemaak kan word.

Van hierdie poppies wat jy kan koop is daar so min soos 150 van hulle beskikbaar in die hele wêreld en dit het ook gewoonlik ’n invloed op die prys van jou poppie.

Omdat hierdie poppies ook so duur is, gee Ansomé gewoonlik die koper die geleentheid om die poppie te laat maak soos wat sy haar verkies, dus is nie twee van hierdie poppies dieselfde nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button