Prontuit praaitjies met die papegaai
Kaketoes is herkenbaar aan die prominente kruine en geboë snawels.
Lizette Kuiper het vir Gawie die papegaai gekry toe hy maar net ‘n paar weke oud was.
Na 19 jaar van in die huis lewe saam met Lizette en haar man, praat ou Gawie amper vlot Afrikaans.
Hy kan ongeveer 100 woorde duidelik sê.
“Ons het hom by ‘n teler in Pretoria gekoop. Ek het hom juis so klein gekoop omdat ek hom hans wou grootmaak. Ek het hom met ‘n inspuiting en ‘n lepel gevoer vir die eerste rukkie,” verduidelik Lizette.
Gawie is ‘n kaketoe.
Kaketoes is herkenbaar aan die prominente kruine en geboë snawels.
Hul verekleed is oor die algemeen minder kleurvol as by ander papegaaie, en is meestal wit, grys of swart en dikwels met gekleurde kenmerke in die kruin, wange of stert.
“Gawie skreeu vreeslik baie, maar dis normal vir kaketoes. In die wild skreeu kaketoes amper konstant in die oggend en ook snags, maar hy kan meer met daai bekkie doen as net skreeu,” sê Lizette, “die ongeveer 100 verskillende woorde wat hy kan sê is baie vir hierdie papegaai-soort. Hy kan natuurlik groet, vra hoe gaan dit (en vir jou terug vertel hoe gaan dit met hom), vir jou sê hy’s lief vir jou, vra vir kos of water, vra vir aandag of drukkies, die honde roep, sê ‘die telefoon lui’, vir my man vra hoe was werk gewees, en nog vele meer. Hy verras ons elke dag met iets nuuts. Die snaaksste ding wat hy doen is dat hy saam met Binnelanders se inleidingsliedjie sing. Hy’s net so mal oor sy sepies soos ek!”
Om ‘n voël te besit is ‘n verbintenis – ‘n groot verbintenis.
Dit is nie soos om ‘n hond te besit nie. Een van die mees geestelik en emosioneel ingewikkelde papegaaie om mee te werk is ‘n kaketoe.
Met behoorlike sorg kan verwag word dat kaketoes ongeveer 40 jaar (kleiner spesies) tot 80 jaar of langer (groter spesies) sal leef.
Kaketoes is baie lewendige en liefdevolle voëls. Hulle is baie snoesig en hou baie noue verbintenis met hul eienaars.
So, wees maar versigtig wat jy sê in Gawie se teenwoordigheid, dié voël is baie slim en mag jou dalk net terug antwoord.
