Die naweek het nog ’n lewe op sy kerfstok gesit. Mnr. Karel Lubbe, (21) is Saterdag, 19 Oktober dood nadat hy in aankomende verkeer met sy motorfiets in ’n ongeluk betrokke was.
Volgens ooggetuies het Lubbe in Hans Strydomlaan sonder ligte voor aankomende verkeer ingery.
“Net my broer sal weet hoekom hy ’n ander motor verby gevat het in die laan en in die aankomende verkeer in teen die ander kar vasgery het,” het Lubbe se suster, me. Alsumien Marais gesê.
Marais het gesê daar is gerugte dat Lubbe erg onder die invloed was, maar sy stem nie saam nie.
“Karel het wel ’n bier gedrink by ’n vriend vroeër die aand. Volgens die dokter wat hom behandel het by die hospitaal is selfs een bier deesdae genoeg om toegelate alkoholvlak limiet te laat oorskry. Karel was nie dronk of sterk onder die invloed nie. Sy vriend het dit ook beaam. Karel se kindertjies het die naweek by hom kom kuier en was by die huis by Karel se pa, Kallie Lubbe. Karel het al baie dom dinge in sy lewe gedoen, maar hy sal nie onnosel wees om te drink en dronk te word terwyl hy op ’n motorfiets gaan ry en sy kleintjies wag vir hom by die huis nie.”
Marais het gesê hy was ’n jongman wat ten volle geleef het.
“Hy het altyd ander mense, familie en vriende eerder gehelp en homself tenagekom in die proses. Hy het geweet hoe om te bestuur want hy was ’n kranige motorsport-entoesias wat ook aan die sport deelgeneem het. Ons het altyd gespot en gesê ons weet hoe hy sal doodgaan eendag … teen ’n hoë spoed op die resiesbaan met sy turbo bakkie. Nooit het ons geweet dit gaan so vinnig gebeur nie en nie op ’n motorfiets nie.”
Marais het Maandagoggend, 21 Oktober verby die ongelukstoneel gery en gesê, “Ek het vanoggend verby die toneel gery om perspektief of ’n breë prentjie te kry van die toneel. Ek sien in my geestesoog hoe hy deur die lug trek en die versperring teen die pad tref.”
Hierdie is die derde tragedie wat die gesin tref.
Marais het gesê hul jongste boetie, Johan Botha, was 12 jaar oud toe hy in 1993 in ’n motorongeluk in Pretoria dood is.
Hul stiefbroer, Jannie Botha, is in 2017 op die N1 in Brackenfell in die Kaap dood in ’n motorfietsongeluk.
Lubbe het sy eie gastehuis, RSVP Guesthouse bedryf.
Hy het verblyf behartig vir kontrakteurs wat op Kusile werk.
Die pa van twee, Karli (3) en Nathan (1) word Vrydag, 25 Oktober by Zandfontein Begraafplaas in Pretoria begrawe.
