Local newsNews

Vier Bybels ongeskonde na brand

Trane het vrylik oor sy wange geloop toe hy om hom rondkyk en die besef sy hart ruk .... 20 jaar se herinneringe is op hopies tussen die swartgebrande mure

Met bewende hande het mnr. Koos Lubbe ’n Bybel vasgeklem, die kneukels van sy hande het wit uitgesteek teen die swart roet aan sy hande.

“Dit is die mag van God se woord,” het hy geprewel. Vier Bybels is ongeskonde nadat die Lubbe’s se huis afgebrand het.

Trane het vrylik oor sy wange geloop toe hy om hom rondkyk en die besef sy hart ruk …. 20 jaar se herinneringe is op hopies tussen die swartgebrande mure.

Die huis in Steve Bantu Bikostraat wat bekend was vir sy pragtige kersliggies het Vrydag, 25 Oktober in die omgewing van 21:30 afgebrand.

Koos is van mening dat ’n skielike kragstuwing nadat die krag in die omgewing aangekom het, tot gevolg gehad het dat hul huis aan die brand steek.

’n Buurman, mnr. JP Meyer het gesê ’n klomp gloeilampe in sy huis het gebars toe die krag aangekom het.

Koos se seun, Jaco het gesê hy het vroeër by sy ouerhuis verbygery op pad na hul roomyswinkel toe om te gaan kyk of al hul yskaste aan is na die kragonderbreking.

“My ouers het by my suster, Jannet, gaan eet omdat die krag af was en ek is daar verby net om te kyk of dit al aan is. Daar was niks fout nie.”

Toe die egpaar by die huis kom was al die bure se ligte aan, maar nie hulle s’n nie.

“Toe ek by ons garage inry het ek vir my vrou gesê ek ruik rook. Die oomblik toe ek die deur oopsluit toe besef ek ons huis brand.”

Koos het dadelik sy seuns gebel wat op hulle beurt die brandweer en ander nooddienste gebel het.

Die plaaslike munisipaliteit se nooddiensnommer het keer op keer net ’n eentonige besettoon gegee.

Bure het tuinslange aangegee en onverpoos probeer om die vlamme te blus.

Na ongeveer ’n halfuur het Ogies Brandweer opgedaag.

“Jou hande is afgekap. Die water uit die tuinslange was net nie genoeg om die vuur te blus nie,” het Koos moedeloos gesê.

Koos het jare op die myne gewerk en gesê die myngroepe het duisende rande aan die plaaslike brandweerstasie spandeer.

“Al daardie geld is gemors. Ons het ’n mooi vertoonvenster as ons verby die brandweerstasie ry en die rooi brandweerwaens staan statig in ’n ry, maar as ’n huis brand is hulle niks werd nie.”

Die plaaslike munisipaliteit het nie gereageer op die klagtes dat die nooddiens beheerkamer se telefoon beset gelui het nie.

Mnr. Koos Lubbe.

Mnr. Lebo Mofokeng, munisipale woordvoerder het gesê die plaaslike brandweer was op die toneel en het Ogies brandweer gebel vir hulp omdat die vuur reeds handuit geruk het.

Hulle het ook geen verduideliking gegee hoekom die plaaslike brandweer nie uitgekom het na die brandende huis toe nie.

Die bejaarde egpaar het baie besluite om te maak. Hulle gaan intussen by hul kinders bly.

Me. Daphne Lubbe het gesê sy weet nie wat hulle sou doen sonder die ondersteuning van hul kinders nie, ons kinders en ons skoondogters Vonita en Sonja en skoonseun Jaco Holtzhausen het ons die afgelope paar dae gedra. Ons wil ook net baie dankie sê aan die gemeenskap vir die woorde van bemoediging en gebede.”

“God is groot. Dinge kon soveel anders verloop het as my ouers vroeg gaan slaap het en nie by my sussie gaan eet het nie. Hulle sou dan in die huis vasgekeer wees en doodgebrand het. Ons verstaan God se planne nie aldag nie, maar ons God het my ouers beskerm deur hulle na Jannet toe te stuur vir aandete,” het Jaco gesê.

Dis hoe die kersliggie huis in Steve Bantu Bikostraat die afgelope 18 jaar vertoon het.

Back to top button