Broers dae lank vermis
Teen dié tyd het hulle nie meer water gehad nie, dit is toe hulle besluit het om ’n kortpad deur die berge te vat
Wat ’n avontuur-staptog vir twee broers moes wees, het in ’n nagmerrie verander met ’n tragiese einde.
Mnr. Nico Pienaar (47), ’n inwoner van die stad en sy broer, mnr. Devereaux Pienaar (53), wat in Pretoria woonagtig was, wou altyd saam ’n avontuur-uitstappie aanpak, maar hulle kon nooit dieselfde tyd afkry nie.
Toe hulle uiteindelik die tyd kon vind om hul droom te verwesenlik, moes Nico terugkeer sonder sy broer aan sy sy.
Nico het in September verlof geneem en na sy vakansie in Kaapstad nog twee weke oorgehad.
Dit is toe dat die twee broers besluit het om saam iets te doen en vir ’n paar dae weg te breek na die Wolkberg Wildernis Reservaat in Limpopo.
Hulle het vroeg Dinsdag, 15 Oktober vertrek.
Met hul aankoms by die reservaat het hulle die kar by die Serala Beheersentrum, waar die staptog begin het, gelos.
Die eerste dag het hulle die bosse ingestap en kampplek gesoek vir die aand. Daar het hulle kos gemaak, maar hulle het amper niks daarvan geëet nie.
Die volgende oggend het hulle ’n ligte ontbyt geëet voor hul verder gestap het.
Nico en Devereaux het hul roete tot by Devil’s Knuckles beplan.
Die staptog het hulle langer gevat as beplan en daarom het hulle besluit om terug te gaan na die parkeerplek waar hulle die kar gelos het. Hulle voorrade was ook amper klaar.
Teen dié tyd het hulle nie meer water gehad nie, dit is toe hulle besluit het om ’n kortpad deur die berge te vat.
Die broers het by hulle tweede kampplek groot poele water gekry en hul eie waterfilter-sisteem geprakseer om die vuil water skoon te maak.
“My broer kon nie die water inhou nie en hy het begin opgooi, ek het ’n klein bietjie water ingehou. Ons het toe besluit om voort te gaan.”
Hulle het die vinnigste roete uit begin soek want Devereaux het begin dehidreer, hulle het weer kamp opgeslaan vir die aand.
Die volgende dag (dag drie) het hulle vroeg begin stap, Devereaux het begin tekens wys van erge dehidrasie en moegheid.
Nico het toe besluit om al twee sakke te dra, want Devereaux was baie swak.
“Ek het 100 meter vooruit geloop, die sakke neergesit en dan teruggegaan om my broer te gaan haal,” het Nico gesê.
Hulle het later by ’n waterval uitgekom en die aand daar spandeer.
Die volgende oggend (dag vier) het die broers besef dat hulle in die moeilikheid is, hulle het rigting verloor en het ook nie meer geweet watse dag dit was nie.
Hulle het besluit om die rivier te volg, maar dit het gelei tot verdere probleme…watervalle. Nico en Devereaux moes van die watervalle afspring.
Een van die watervalle was baie hoog en hulle het nie geweet hoe diep die poel was nie.
“Ons het besluit om eerder ’n ander roete te soek, om te spring was net te gevaarlik.” Hulle het daarna ’n stomp gebruik om ’n krans uit te klim.
Devereaux het homself teen die krans opgetrek, maar hy was te swak om Nico op te trek.
Teen die tyd dat Nico bo uitgekom het, het Devereaux begin aanloop. Nico het boonop sy skoene in die proses verloor.
Nico het aanhou skree: “Boet, kan jy my sien, want ek kan jou nie sien nie.” Devereaux het aanhou sê dat hy Nico steeds kon sien.
Op ’n stadium het Nico weer na sy broer geroep, maar hy het nie geantwoord nie. Uitgeput het Nico gaan sit en aan die slaap geraak.
Die oggend van dag vyf het Nico vroeg begin soek na sy broer, maar kon hom nie vind nie.
Nico het toe besluit dat hy uit die wildernis moet kom om hulle altwee te red.
Nico het deur dik bosse, dorings en struike gestap waar hy by ’n rivier gekom het. Hy kon ’n damwal en huise in die verte sien.
“Ek het begin loop na die geboue toe. Ek het verlore gevoel, dit het vir my gevoel of ek die enigste persoon op die aarde was.”
Op dag ses het Nico nog ’n nag sonder sy broer in die bosse spandeer, voor hy by die damwal uitgekom het.
By die damwal was dit baie hoog en hy kon nie daar af klim nie, Nico het deur die heining geklim en op die rand van die muur gesit.
“Ek was nie honger nie ek het net baie swak gevoel en was moeg.”
Toe Nico afkyk het hy ’n man en vrou gesien en geskree om hul aandag te trek.
Hy het aan hulle vertel wat gebeur het.
Die man was mnr Sydney Mukhabela (30), ’n plaaslike taxibestuurder.
Sydney het eers gedink dit was ’n spook wat uit die bosse kom, hy kon nie glo dat ’n mens lewendig uit daardie bosse sou kom nie.
“My voete was rou en vol dorings, Sydney het sy skoene uitgetrek en vir my gesê ek moet dit aantrek. Ons het vir nog so twee kilometer geloop tot by ’n plaaslike kafee in die dorpie van Thabine.”
By die kafee het Sydney vir Nico ’n blikkie boontjies, ’n blikkie vis en ’n energie koeldrank gekoop.
Nico kon net sy ma se nommer onthou, maar sy ma was op ’n plek waar daar nie sein was nie.
Sydney het daarna Nico se familie deur middel van Facebook opgespoor.
Die owerhede is bewus gemaak van die situasie.
Nico is na The Hangar in Haenertsburg gevat waar hy mediese behandeling ontvang het.
The Hangar was daarna die basis vir die soektog wat van stapel gestuur is en deur verskeie owerhede hanteer is.
Nico self was deel van die soekspanne.
Selfs die taxidrywer het sy eie soektog gereël en hy het mense in die bosse in gestuur om na Devereaux te soek.
“As ons almal kan saamstaan soos Sydney my gehelp het, sal Suid-Afrika ’n wonderlik plek wees,” het Nico gesê.
Die broers se sakke is eerste gevind en op Saterdag 26 Oktober is Devereaux se liggaam sowat 300 meter van waar Nico hom laaste gesien het, gevind.
“My broer was ’n wonderlik persoon. Hy het altyd uit sy pad gegaan om my of my suster te help. Hy het ’n hart van goud gehad. In 2012 het hy my hele gesin en my suster se hele gesin verras met ’n vakansie na Disney World. Ons het mekaar nie baie gesien nie, maar ons was ‘close’ op ons eie manier,” het Nico met trane in sy oë gesê.
Nico wil almal bedank wat gehelp het met die soektog, veral vir Tannie Louise wat dag in en dag uit gestaan en kos maak het vir almal en kospakkies vir die soekspanne gepak het.
“Baie, baie dankie dat julle mense, ’n familie gehelp het wat julle nie eers ken nie,” het Nico ten slotte gesê.
