Local newsNews

[VIDEO] Tannie Marie mik vir 100

Tannie Marie is in Witbank Hospitaal opgeneem nadat sy haar heup op 27 Oktober gebreek het

Nog net 365 dae dan gaan ons ’n groot opskop hou en daardie woorde het Tannie Marie Roux se oë opgehelder.

Tannie Marie het op 4 November 99 jaar oud geword.

Sy was nou wel in die hospitaal na ’n heupoperasie, maar dit het haar gees nie gedemp nie.

“Ek is so geseënd, ek kan al my seëninge nie opgebruik nie,” het Tannie Marie gesê toe sy ’n slukkie van haar geliefkoosde koffie gedrink het.

Tannie Marie is in Witbank Hospitaal opgeneem nadat sy haar heup op 27 Oktober gebreek het.

Oor die diens in die hospitaal het sy net lof, “Die personeel en dokters is absoluut engele. Ek word op die hande gedra en almal is baie goed vir my.”

Tannie Marie is op Dordrecht in die pragtige Kaap gebore en daar het sy ook skoolgegaan. Hulle het later Johannesburg toe getrek.

Die baie sjarmante Chris-Jan het haar hart gesteel en hulle is getroud. Die gesin het 19 jaar op Vandyksdrift gebly.

Tannie Marie lyk glad nie 99 jaar oud nie en deel baie graag haar geheim.

“Ek koop ’n gesigsroom wat my vriendin Bettie Venter meng. Dit is al, geen duur gesigsrome vir my nie.”

Wanneer Tannie Marie oor Jesus praat, helder haar gesig op en steek daar liggies in haar oë aan, “Daar is swaar tye, daar is hartseer tye, maar dis wanneer Jesus my sommer oor Sy skouer gooi en my abba.”

Tannie Marie bedank almal vir die gebede en die heerlike bederfies op haar verjaarsdag, “Ek is ’n ‘celebrity’ kyk net al my blomme.”

Haar 80-jarige skoonseun, Koos Grobler kom loer ook elke dag in, “Koos is vir my so dierbaar. Ek weet nie wat ek sonder hom sou gedoen het nie. Ek is ’n gelukkige skoonma, ek het ’n engel vir ’n skoonseun gekry.”

Immergroen is die afgelope 11 jaar Tannie Marie se tuiste.

Sy is altyd op haar pos by die naaldwerktafel as daar basaar gehou word en sy maak die allermooiste voorskote.

“Ons is baie lief vir Tannie Marie. Sy is elke dag vir ons ’n inspirasie. Op haar 100ste verjaarsdag gooi ons die grootste makietie wat eMalahleni nog gesien het,” het die bestuur van Immergroen gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button