Langvingers beland in die sop
Minute later was daar baie omstanders en ook onderwysers wat bystand gelewer het
’n Mamma wat haar kind by die skool gaan aflaai het, het haar boeglam geskrik toe sy met haar terugkeer ’n vreemde man in haar motor sien sit het.
Me. Marizell du Toit het soos elke Maandag haar kindertjies by die skool afgelaai, maar op 4 November het die oggend buitengewoon uitgedraai.
“Toe ek by die kaar aankom het ek in my spore vasgesteek toe ek die man sien. Ek het dadelik my foon gevat en om hulp geroep op die SACCW zello-kanaal. Ek het teen my deur gaan staan en seker gemaak die man kan nie uitkom tot daar hulp gearriveer het nie,” het Du Toit op die toneel verduidelik.
Minute later was daar baie omstanders en ook onderwysers wat bystand gelewer het.
Enkele oomblikke later was die reaksielede van SACCW by haar.
Die man is uit die voertuig verwyder en die polisie is gekontak waarop die man in hegtenis geneem is.
In eMalahleni is daar ’n toename in gevalle waar die klaers nie kan verduidelik hoe misdadigers toegang tot hul motors kry nie.
By nadere ondersoek het sommige van die gevalle plaasgevind waar beeldmateriaal van CCTV-kameras is en is daar vasgestel dat misdadigers met toestelle rondloop wat verhoed dat ’n motor sluit as jy uitklim.
“Verdagtes is daagliks besig om by plaaslike vulstasies, winkelsentrums en selfs skole te loop met dié toestelle om die voertuie se immobiliseerder van ʼn afstand vas te plak. Ander gebruik slim taktieke deur ʼn agterdeur oop te maak terwyl jy uit jou voertuig klim. Om waardevolle items soos selfone, skootrekenaars, beursies en handsakke agter te laat waar misdadigers hulle kan sien, kan ʼn bydraende faktor tot hierdie soort misdade wees,” het mnr. David Wessels, operasionele-direkteur van SACCW verduidelik.
WITBANK NUUS het al talle kere oor soortgelyke voorvalle soos dié berig gelewer en die gemeenskap versoek om meer veiligheidsmaatreëls toe te pas.
“Ons doen ʼn ernstige beroep op die gemeenskap om jou voertuig se deure na te gaan elke keer as jy die voertuig verlaat. Loop om jou voertuig en sorg dat elke deur gesluit is voordat jy dit verlaat. Indien die voertuig probleme ondervind om te sluit, wees waaksaam en let op na verdagte mense in jou omgewing. Neem soveel moontlik inligting af en meld dit by sekuriteit aan of by Witbank Polisie direk by 013 655 5051/2,” het Wessels ten slotte gesê.
