Local newsNews

“Bietjie liefde maak baie diertjies se hartjies bly”

Van kolwyntjies met diertjies se gesiggies tot ’n spesiale plekkie afgekamp vir haar ‘geskenkies’ het die dag net pret opgelewer

Die sewejarige Kaeleigh Bezuidenhout kan baie vir ons inwoners leer as dit kom by liefdadigheid en gee.

Die dogtertjie het nie net haar verjaardaggeskenke opgegee nie, maar ’n werklike verskil in die diertjies by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se lewetjies gemaak.

Kaeleigh het die afgelope naweek haar verjaarsdagpartytjie saam al haar maats en familie geniet, maar in plaas van ’n mooi pop of oulike teestelletjie as geskenk wou Kaeleigh net kossies vir diere hê.

Op 9 November het die Bezuidenhout ouers reggemaak vir ’n groot feesviering vir hul dogtertjie wat sewe jaar oud geword het…

Van kolwyntjies met diertjies se gesiggies tot ’n spesiale plekkie afgekamp vir haar ‘geskenkies’ het die dag net pret opgelewer.

WITBANK NUUS het ’n onderhoud met hierdie spesiale dogtertjie gehou sodat sy vir die res van die Steenkoolstad wenke kan gee oor liefdadigheid.

“Ek voel elke mens en diertjie is geregtig op liefde en aandag en daag ek al die maatjies in Witbank uit om ook ietsie spesiaals te doen vir die weerloses,” het die pragtige rooikoppie met trots gesê.

In haar vrye tyd kan sy nie genoeg kry van hul sewe troeteldiere nie en vertel sy met liefde iets van elke een, “ons het drie honde wat se name Pennie, Pippa en Cashious is. Dan het ons ook ’n pragtige katjie wat se naam Libby is en drie slange: Sia, Septimus en Snakespare. Ons honde se gunstelling speletjie is om na die dam toe te gaan waar hulle saam my en my boetie kan rondhardloop en speel.”

Sy meen dat, “’n bietjie liefde baie hartjies kan bly maak en dat ek graag die stem vir diertjies wil wees wat nie ’n mamma of pappa het nie,” het haar sagte stemmetjie gesê.

Die gesin is Sondag op 10 November na Witbank se DBV toe om die skenking te maak en met verraste gesigte kon die personeel nie glo hoe pragtig die dogtertjie se hart is nie.

“Eendag as ek groot is gaan ek ’n dieredokter wees wat siek diertjies gesond maak,” het sy trots bygelas.

Haar mamma, Cindy Bezuidenhout het met trots ten slotte gesê, “ek en haar pappa is so ongelooflik trots op haar. Die klein hartjie wat sy het maak so groot verskil. Sy is ’n inspirasie vir ons want sy wil altyd net haar medemens help waar sy kan. Dis snaaks hoe so klein lyfie ons grootmense kan leer om beter mense te wees.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button