Local newsNews

Vyfjarige se ma blameer nie eienaar na hondeaanval

Dit was nie die eerste keer dat die kinders gespeel het terwyl die honde buite was nie

Dit gaan sommer baie beter met Meghan Marais wat verlede Sondag deur twee Boerboele gebyt was.

“Meghan is al klaar weer aan die gang. Sy huppel en speel asof niks met haar gebeur het nie,” het haar mamma, me. Bianca Marais gesê.

Marais het vertel dat Meghan en nog twee maatjies soos oudergewoonte op 24 November buite gespeel het by huisvriende.

Dit was nie die eerste keer dat die kinders gespeel het terwyl die honde buite was nie.

“Ons het net ’n skree gehoor en toe ons buite kom het die honde reeds weggehardloop. Toe ons Meghan kar toe dra, het die een hond na ons toe aangekruip gekom asof hy wou jammer sê,” het Marais vertel.

Me. Natasha de Beer, Meghan se tannie het gesê die vyfjarige onthou die hele aanval.

“Meghan het gesê hulle het buite gespeel toe die een hond haar aan die hare beetgekry en haar kop gebyt het. Die ander hond het ook skielik net aggressief geraak en haar aan die been en arm gebyt.”

De Beer het gesê ten spyte van die situasie by Witbank Hospitaal waar gesondheidswerkers tans staak omdat hulle wag vir die LUR van Gesondheid om die hospitaal te beveilig, is Meghan tot dusver net goed behandel.

Marais het aangedui dat sy geen kwade gevoelens teenoor die hond se eienaar het nie.
Sy het verkies om hulle anoniem te hou.

Bekende plaaslike hondekenner me. Michelle Meyer het gesê Boerboele is opgelei as waghonde, veral op plase.

Sy het bygelas soos met enige ander hond kan ouers net nie versigtig genoeg wees nie en moet kinders nooit alleen by honde gelos word nie.

“Enige hond se geaardheid hang af van hoe hulle grootgemaak, opgelei en hanteer word. Die boerboele het dalk bedreig gevoel en het hulself verdedig,” het sy gesê.

Die kommentaar op sosiale media dat as ’n hond eers bloed proe, word hy baie aggressief, maak Meyer af as ’n mite.

Sy het aangebied om gratis sessies met Meghan te doen om haar te help om oor haar vrees vir honde te kom en honde beter te verstaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button