Local news

Seun eis antwoorde nadat ma se liggaam in lykshuis ontbind

Die departement van Gesondheid het bewerings ondersoek dat die Witbank-hospitaal se verkoelingseenhede buite werking was.

Jaco van Wyngaard (54) sukkel om die nuus te verwerk dat sy ma, Babs Niemann (84), se liggaam ontbind het voordat sy waardig ter ruste gelê kon word.

Van Wyngaard se oë raak troebel wanneer hy sy ma se besittings sien in die woonstelletjie waar hy maande lank na haar omgesien het.

In plaas van mooi herinneringe, sit die woorde van die begrafnisondernemer in sy gedagtes vas.

“Ons sal mamma moet veras. Ons kan nie ’n besigtiging reël nie, want sy is reeds besig om te ontbind,” het hy gesê toe hulle op 7 September by die Witbank-hospitaal se lykshuis opgedaag het.

Van Wyngaard moes die familie inderhaas laat weet dat geen besigtiging kon plaasvind nie.

Niemann het vier maande gelede geval en het sedert Junie gesukkel om te loop. Nadat haar gesondheid agteruitgegaan het, is sy op 22 Augustus in die Witbank-hospitaal opgeneem.

“Mamma was baie siek en het glad nie geëet nie. Sy was verskriklik swak en het in die ongevalle-afdeling met ’n drup gelê. Later daardie aand het hulle haar huis toe gestuur,” het hy vertel.

Van Wyngaard het gesê hy het gesukkel om vervoer te reël en het die verpleegpersoneel ingelig dat hy nie ’n rolstoel vir haar by die huis het nie.

“Ek het met ’n gesukkel vir mamma in die huis gekry. Die hospitaal het met haar ontslag ’n kateter ingesit en volwasse doeke saamgegee.”

Van Wyngaard moes sy ma bad, haar doeke omruil en voer.

“Dit was baie moeilik. My ma was heeltemal van my afhanklik.”

’n Week later het Niemann so verswak dat sy skaars kon praat en niemand herken het nie.

Sy is weer na die Witbank-hospitaal geneem waar sy volgens Van Wyngaard in die ongevalle-afdeling gelaat is omdat daar glo nie hospitaalbeddens beskikbaar was nie.

Lees meer: eMalahleni vrou in hof ná R36m-diefstal

Op 1 September is sy na die Santa-hospitaal oorgeplaas, waar sy op 3 September oorlede is.

Haar liggaam is toe teruggeneem Witbank-hospitaal toe waar sy in dié hospitaal se lykshuis geplaas is.

Van Wyngaard beweer dat die verkoelingsyskas waarin Niemann geplaas is op 27°C gestel was.

“Ek is so dankbaar dat die begrafnisondernemer eerste ingegaan en my gekeer het om mamma te sien. Sy het reeds ontbind en baie sleg geruik. Dis iets wat ek nie uit my kop kry nie,” het Van Wyngaard gesê.

Lees meer Diewe steel naaldwerkmasjiene van stoep in Ga-Nala

Die begrafnisondernemer, wat verkies om anoniem te bly, het bevestig die ontbindingsproses het reeds by Niemann begin plaasvind toe hulle haar liggaam by die Witbank-hospitaal opgelaai het.

Navrae oor die voorval is aan die Departement van Gesondheid gestuur vir kommentaar.

Dumisane Malamula, Hoof van Kommunikasie, het gesê die departement is nie bewus van enige voorval waar die lykshuis se verkoelingseenhede gedurende die betrokke tydperk teen 27°C gewerk het nie.

“Die temperature van die lykshuis se verkoelingseenhede word twee keer per dag gemonitor as deel van die fasiliteit se roetine-temperatuurmoniteringsprosesse,” het hy verduidelik.

Volgens die departement was daar geen verslae dat die lykshuis se verkoelingseenhede tussen 3 en 7 September buite werking was nie.

Die departement se ondersoek het ook gevind dat daar geen tegniese fout of verkoelingsonderbreking gedurende die betrokke tydperk aangemeld is nie.

“Die departement neem klagtes rakende lykshuisdienste ernstig op en bly daartoe verbind om te verseker dat toepaslike prosedures gevolg word in die bestuur en versorging van oorledenes,” het Malamula gesê.

Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,

Volg ons op  website, Facebook, X,  Instagram or TikTok

Epos: info@witbanknews.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button