Local newsNews

Dieseldiewe veroorsaak dierevrektes

Dié misdaad het gemaak dat derduisende liters diesel vrylik in ’n rivier, die Saalklapspruit tussen Phola en Ogies invloei, wat weer aansluit by die Vaaldam.

Die skade van kriminele strek al sover dat die natuur en dié se lewe bedreig word deur besoedeling.

Misdadigers het onlangs ’n pyplyn oopgekap om diesel te steel en die dieselpyplyn net so oop gelos.

Dié misdaad het gemaak dat derduisende liters diesel vrylik in ’n rivier, die Saalklapspruit tussen Phola en Ogies invloei, wat weer aansluit by die Vaaldam.

Me. Rozelle Coetser wat naby aan die rivier woonagtig is, het aan WITBANK NUUS die erns van die saak verduidelik na sy voëls sien dood lê het en die reuk van diesel hulle van alle kante af getref het.

“Daar is al vir ’n geruime tyd ’n sindikaat wat diesel steel van Transnet se pype af en dié keer het dit nie net finansiële skade berokken nie, maar ook skade aan die natuur,” het Coetser vertel.

Die ramp maak dat alle boere in die omgewing beperk is as dit kom by hul vee wat vrylik kan wei en maak dit dat die diere die heeltyd in ’n kamp moet bly, “om te verhoed dat ons vee naby die rivier kom en dalk water daar drink.”

Na die probleem aangemeld is, het Transnet se werkers volgens Coetser dadelik ingespring en aande omgewerk om die diesel uit die rivier uit te verwyder.

“Alhoewel dit nie Transnet Pipelines se verantwoordelikheid is nie, het hulle nie een keer gewik of weeg om te help nie en is al van Sondag, 15 Desember besig om die skade te probeer regmaak. Dit beteken vir ons boere ongelooflik baie dat hulle sonder vraag help,” het sy verder vertel.

Op Dinsdag, 17 Desember was die inwoners, Transnet Pipelines werkers en natuurliefhebbers steeds besig om vragte en vragte vol vuil dieselwater weg te ry en uit die rivier te kry, maar volgens die woordvoerder van Transnet Pipelines, me. Saret Knoetze gaan dit nog ’n lang proses wees voor al die diesel verwyder is uit die water.

Intussen het Transnet Pipelines klaar ’n plan van aksie wat die diefstal betref en is daar al talle arrestasies gemaak.

“Ons wil die hele pyplynspan bedank vir hulle harde werk, die gemeenskap wat ook dadelik ingespring het en gehelp het waar hulle kon en dan ook vir die boere wat ons werkers in die middel van die nag gehelp het met die uitsleep van trokke wat vassit. Dit is werklik wonderlik om te sien hoe al hierdie mense die negatiwiteit van die misdaad eenkant toe skuif en eerder saamstaan en mekaar help,” het Knoetze ten slotte gesê.

*Inwoners word gevra om paraat te wees en enige verdagte aktiwiteite te rapporteer aan Transnet Pipelines se tolvry nommer: 0800 203 843.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button