Local newsNews

Help reg, steun ’n betroubare instansie

Instansie wat die publiek wil ondersteun moet geloofwaardig wees.

Solidariteit Helpende Hand waarsku die publiek om waaksaam te wees vir skynbaar oneerlike mense wat te midde die Covid-19-pandemie munt wil slaan uit mense se goedhartigheid.

“Te midde van dié krisis is dit net menslik dat lede van die publiek op ’n manier hul medemens wil help. Daar is egter ongelukkig ook diegene wat die geleentheid gebruik om die situasie uit te buit,” sê Rene Roux, adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie van Solidariteit Helpende Hand.

Volgens Roux moet die publiek seker wees die instansie wat hulle wil ondersteun is eerstens geloofwaardig, en tweedens dat niemand onder valse voorwendsels vir dié instansie “liefdadigheidswerk” doen nie.

“As jy ’n skenking wil maak, gaan doen navorsing oor die instansie – ʼn  vinnige Google-ondersoek behoort baie oor die instelling te sê. As daar individue is wat hulself as verteenwoordigers voordoen, maak seker die individue is wel werksaam by die liefdadigheidsorganisasie deur die persoon se naam, van en ID-nommer te versoek en by die betrokke instansie navrae oor dié persoon te doen,” sê Roux.

Roux waarsku dat Helpende Hand nooit skenkings of hulpverlening sal versoek sonder om sy amptelike korporatiewe identiteit op dokumentasie of sosialemediaplasings te gebruik nie.

Roux sê Solidariteit Helpende Hand se handelsmerk spreek van integriteit en roeping wat Helpende Hand elke dag uitleef.

“Ons is geregistreer onder die handelsmerk Helpende Hand en dit is presies wat ons wil wees. Ons wil ’n helpende hand wees vanuit die Solidariteit Beweging, waar ons mense se behoeftes verstaan. Ons glo in ’n georganiseerde samelewing, ’n geordende wyse van welsynhantering en binne ons welsynprojekte weet ons hoe belangrik strukture is asook die hantering van strukture,” voeg sy by.

Helpende Hand is geskoei op die beginsels van die Helpmekaar-beweging van 1949 en het goed gevestigde strukture landwyd in plek om reg te gee. Gesinne wat om hulp aansoek doen, word behoorlik deur maatskaplike werkers geassesseer en daarvolgens bygestaan. Dié proses begin deur ’n e-pos na diens@helpendehand.co.za te stuur.

“Dit is vir ons mooi as gemeenskappe saamstaan, maar moet nie dat enigiemand ’n sluier oor jou oë probeer trek nie. Weet byvoorbeeld deur Helpende Hand te ondersteun gee jy reg om armoede te verlig, te verbreek en te voorkom. Ons wil graag die lede van die publiek aanmoedig om uit te kyk vir Helpende Hand se kenteken (logo) op alle kommunikasie as hulle ’n skenking oorweeg,” sê sy.

Helpende Hand saam met die groter Solidariteit beweging het onlangs sy www.krisisfonds.co.za van stapel gestuur. Die doel van die fonds is tweedelig – om te sorg dat leerders tydens die inperkingstyd deur Wolkskool tuisonderrig kan ontvang, en om behoeftige mense met maatskaplike ondersteuning by staan.

Helpende Hand het ook verskeie voedingskemas om gesinne met kospakkies by te staan. Die skemas behels Josef Silo’s, Houers VOL Hoop, #StopHonger, die Kosblikkie-projek en #HelpJag. Die instansie se amptelike bankbesonderhede is op www.helpendehand.co.za.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button