Local newsNews

Seekoeiwater se inwoners is nou ywerige voëlkykers

Inwoners van Seekoeiwater-plotte het vir Sondag 3 Mei ’n voëlkykdag gereël waar belangstellende inwoners vanaf 07:00 tot 11:00 vanuit hulle tuine moes lys watter voëlspesies hulle waarneem.

Die voëlkyk-gogga het behoorlik gebyt.

Inwoners van Seekoeiwater-plotte het vir Sondag 3 Mei ’n voëlkykdag gereël waar belangstellende inwoners vanaf 07:00 tot 11:00 vanuit hulle tuine moes lys watter voëlspesies hulle waarneem.

Veertien spanne wat uit 32 mense bestaan het, het deelgeneem.

“Almal het al vroegoggend gereed gesit, gewapen met verkykers, kameras, voëlboeke, koffie en ontbyt. Daar het groot opgewondenheid onder die kykers geheers en ons WhatsApp-groepie het behoorlik gegons,” het die ywerige voëlkyker Philip Visser vertel. 

Die voël-oes het altesaam 57 spesies opgelewer waaronder: Bergwagter,Bruinkopvisvanger, Feevlieëvanger, Kleindobbertjie, Reusereier, Skoorsteenveer, Slanghalsvoël, Swartkopwielewaal, Volstruis en Witborsduiker.

Agterna het elkeen in sy eie tuin gebraai en die WhatsApp het steeds bly gons. Die vraag op almal se lippe was,” wanneer doen ons dit weer?”

Philip het verduidelik hoe die konsep werk, “Voëls wat getel word is die wat jy in jou tuin of wat jy vanaf jou tuin kan sien, miskien ’n voël in jou buurman se erf. Voëls wat jy op hulle roep kan identifiseer al kan jy hulle nie sien nie, voëls wat oorvlieg en net wilde voëls kan getel word, nie voëls in hokke nie.”

Net spesies word getel.

Philip het bygevoeg dat twee persone moet saamstem met identifikasie.

Elke span moes ’n lys van die voëls wat hulle gesien het op die WhatsApp-toep plaas sodat ’n gesamentlike lys opgestel kon word. Interessante foto’s van die dag  kon op die toep geplaas word.

Die Seekoeiwater voëlkykers het nie ’n formele klub nie.

“Ons is sommer net ’n groep belangstellendes wat op die Seekoeiwater-plotte woon. Daar is op Seekoeiwater se sosiale WhatsApp-toep  geadverteer en belangstellendes kon op ’n spesifieke toep met mekaar gesels.”

Philip teken al vanaf 2006 aan watter voëls hy by Seekoeiwater sien en die lys trek nou al op 168 verskillende spesies.

“Ek moet erken ek het vir ’n tydperk die hulp gehad van twee professionele veldgidse van ’n privaat wildtuin en hulle sien en hoor baie meer as ons gewone ouens.”

Philip het bygevoeg hulle identifiseer ’n voël deur ’n goeie voëlboek te gebruik, ’n verkyker en kamera kom ook handig te pas.

Seekoeiwater-plotte is bevoorreg dat die standhoudende Seekoeiwaterspruit deur die plotte vloei en ’n entjie verder in die Olifantsrivier uitmond. Daar is ook verskeie damme in die spruit en dié habitat lok ’n bedrywige watervoël lewe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button