Local newsNews

(Video) Oom Gert bloei al vir baie jare

Oom Gert het die gewoonte op 22 Maart 1960 aangeleer toe een van sy medewerkers hom letterlik aan die oor gegryp en saamgesleep het om bloed te gaan skenk

Jy hoef nie ver te soek na Oom Gert Nel (83) nie. Luister net, want daar waar daar borrelend gelag word is Oom Gert sekerlik besig om een van sy staaltjies te vertel.

Oom Gert se ondeunde oë was die ene opgewondenheid toe hy Dinsdag 25 Augustus sy 350ste eenheid bloed geskenk het.

Oom Gert het die gewoonte op 22 Maart 1960 aangeleer toe een van sy medewerkers hom letterlik aan die oor gegryp en saamgesleep het om bloed te gaan skenk.

“No ways, nie daai naald nie,” was Oom Gert se eerste reaksie.

Maar, 60 jaar later en hy skenk nog steeds.

Oom Gert het sommer ook die vereistes genoem waaraan jy moet voldoen as jy wil skenk.

“Elkeen wat bo 50kg weeg, wat tussen die ouderdom van 16 en 65 jaar is en ’n veilige, gesonde leefstyl handhaaf, kan bloed skenk.”

Maar hoe gemaak as jy lankal jou 65ste verjaarsdag gevier het en nog steeds wil skenk?

Oom Gert se huisdokter moet hom elke twee jaar goed ondersoek en dan ’n brief skryf waarin genoem word dat hy nog mag skenk.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) sê die publiek moenie ontmoedig raak om bloed te skenk weens die inperking wat die Covid-19 pandemie inhou nie.

Veral mense met die O-bloedgroep se bloed is in aanvraag omdat mense van dié groep bloed aan mense van elke ander bloedgroep kan skenk, en dit die meeste in noodgevalle gebruik word.

Die bloeilokaal is in Saveways Sentrum oorkant Checkers geleë.

Hulle is weeksdae oop vanaf 08:00 tot 16:00, Dinsdae vanaf 11:00 tot 18:00 and Saterdae vanaf 08:00 tot 13:00.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button